full screen background image
‘n Forensiese ondersoekspan op die toneel in die Polokwane Wildreservaat waar ‘n tweede renosterkarkas verlede Donderdag gevind is.

Onophoudelike slagting van renosters duur voort

350

Die Polokwane Munisipaliteit blyk nie bevoeg of bekwaam te wees om die renosters in die Polokwane Wildreservaat te beskerm nie nadat nog ‘n karkas van nog ‘n renoster wat vermoedelik verlede week deur stropers geskiet is, verlede Donderdag in die veld gevind is.
Die ander karkas is vroeg verlede week gevind.
Die Polokwane Munisipaliteit se woordvoerder, Disree Manyane het die voorval bevestig, maar wou nie uitbrei nie. “Ons is bewus van die tweede renoster wat doodgeskiet is, maar kan nie verdere inligting verskaf nie omdat dit konfidensieel en sensitief is,” het Manyane gesê.
Renosters in die reservaat is verlede jaar onthoring om stroping te probeer voorkom, maar die slagting duur onverpoos voort. Die renoster is glo doodgeskiet, maar die horingstompie nie verwyder nie. ‘n Bron het gesê ‘n forensiese ondersoekspan was Vrydag op die toneel om die koeël in die karkas op te spoor.
Dit volg nadat ‘n fietsryer verlede Maandag op ‘n renosterkarkas van in die reservaat afgekom het. Dié renoster is ook glo doodgeskiet sonder dat die stompie verwyder is. Daar word vermoed dat die stropers deur iets of iemand afgeskrik is.
Veldwagters het blykbaar verlede Donder­dag die gruvonds gemaak. Die vermoede is dat die renoster saam met die een wat Maandag gevind is, geskiet is, maar elders gevrek het.
Tot op datum is ses renosters binne agt maande in die Polokwane Wildreservaat deur stropers doodgemaak.
Polokwane-polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba kon sedert verlede week nie die voorval bevestig nie.
Intussen het Deon en Nick van Deventer en Onwand Muchagowa Maandag en Dinsdag weer in die Louis Trichardt Landdroshof verskyn waar hulle om borgtog aansoek gedoen het.
Die trio is blykbaar met die renoster wat in Desember in die plaaslike reservaat geskiet en onthoring is, verbind. Volgens inligting is slegs Deon se borgtogaansoek afgehandel en die saak is uitgestel wanneer Nick en Muchagowa met hul aansoeke sal voortgaan.
Die drie is in Januarie buite Louis Tri­chardt aangekeer nadat hulle vermoedelik ‘n renosterhoring wou verkoop.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com