full screen background image
Lana Steyn, ‘n plaaslike onderwyser wat letterlik uit krokodilkake bevry is en haar vriend, Mike van der Merwe.

Onnie uit krokodil se kake bevry

2025

‘n Lang herstelpad lê vir die 61-jarige Lana Steyn, ‘n onderwyser van Akademie Reformia, voor nadat ‘n ple­sierige uitstappie in Pontdrift verlede Donderdag in ‘n skrikwekkende nagmerrie ontaard het toe sy deur ‘n krokodil aan die hand gegryp en die water ingetrek is.
Die skade aan Steyn se duim, wys- en middelvinger en meer as die helfte van haar linkerhandpalm was so ingrypend dat dit kort na die voorval in Mediclinic Limpopo geamputeer is.
Sy is Maandag reeds ontslaan nadat haar linkerhand aan haar bobeen geheg is om velgroei oor die wond te bevorder.
Steyn het Maandag vanuit haar hospitaalbed gesê haar vriend, Mike van der Merwe (60) was die held van die dag.
“Alles het so skielik gebeur en was blitsig verby. Was dit nie vir Mike wat vinnig gedink en aksie geneem het nie, was ek vandag dood.”
Beide is natuurliefhebbers en was op ‘n visvanguitstappie en het tegelykertyd voëls langs die rivier bekyk. “Ons was telkens naby die wal van die Limpoporivier en Lana het ‘n vis uitgetrek. Ek het nog ‘n foto van haar en die vis geneem voordat sy hom terug in die water wou sit,” sê Van der Merwe.
Steyn was gebukkend besig om die vis in die water vry te laat toe Van der Merwe sien hoe ‘n krokodil van ongeveer 2,5 m voor hom uit die water rys en haar aan die hand gryp.
“Hy het haar onmiddellik in die water ingetrek en haar kop was ‘n slag onder water. ‘Hy hét my,’ het sy geskree. Die oomblik toe ek besef wat gebeur het ek instinktief ingeduik en die krokodil om sy lyf net voor sy agterpote vasgegryp.”
Hy het besef die water is vlak genoeg dat hy ‘n kans kan vat.
“Ek het my greep tot agter die krokodil se voorpote verwissel en hom uit die water opgetel. Haar hand was in sy bek vasgeklem terwyl sy met haar ander hand aan ‘n graspol op die oewer vasgeklou het. Toe ek hom uit die water lig was sy kop by myne. Die krokodil het vir ‘n oomblik sy kaak oopgemaak en Lana kon haar hand bevry.”
Van der Merwe het ‘n T-hemp gebruik om die vergruisde hand te verbind. “Ek het my vingers en stukke vleis bymekaar gehou sodat hy die hemp kon omdraai,” sê Steyn.
Hul het Polokwane toe gejaag waar Steyn geopereer is om die beskadigde dele van haar hand te amputeer.
“Ek kan my pinkie voel, maar glo nie my ringvinger gaan ten volle herstel nie omdat hy ook bytmerke het.”
Volgens Van der Merwe, wat slegs krapmerke van die krokodilpote aan sy arms en been opgedoen het, ken beide die rivier en omgewing en weet dat daar krokodille is.
“Ons was so na aan die water dat hy een van ons enige tyd kon aanval. Ons is baie gelukkig om te leef en die storie te vertel.”
Steyn sal nog verskeie operasies moet ondergaan en behoort nie aan ‘n mediese fondsskema nie. ‘n Fonds is vir haar mediese koste gestig met die volgende besonderhede:
Kobus Coetsee Attorneys – Trust
First National Bank
Rekeningnommer: 62099506225
Takkode: 260-226
Verwysing N00020 – Lana Steyn

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com