full screen background image
Mediese personeel beveilig die nagebootste ongelukstoneel waar ‘n rolspeler onder ‘n isola­siekombers lê.

‘Ongeluk’ toets nooddienste

259

Polokwane se nooddienste se gereedheid en reaksietyd in aanloop tot Paastyd is verlede Donderdag tydens ‘n nagebootste ongeluk op die R71 buite Polokwane getoets.
Volgens Hannelie Swanepoel, roetebestuur­der by ‘n maatskappy wat die paaie in en om die stad monitor en organiseerder van die oefening, was die doel om reaksietye te toets en te sien waar verdere opleiding nodig is. “Ek is baie beïndruk met die nooddienswerkers se reaksietye en optrede op die toneel, maar daar is van die instansies betrokke waarvan die personeel nog opleiding sal moet ondergaan,” sê sy.

‘n Kilometer merkerbordjie wat die N1-roete aandui. Dit is in seksie 28 geleë en 2,2 km noord van Polo­kwane.

Verskeie privaatambulansdienste, die polisie, nasionale en plaaslike verkeersdepartemente asook plaaslike brandbestryders was op die toneel.
Die noodoproep is om 09:45 uitgestuur en die eerste nooddiensvoertuig van ‘n bekende maatskappy was teen 09:51 op die toneel, gevolg deur ander privaatambulansdienste wat teen 10:00 opgedaag het. Verkeersbeamptes, die polisie en brandweer was teen 10:21 almal op die ongelukstoneel ontplooi.
Swanepoel beveel aan dat die publiek hulself moet vergewis van die reëls en regulasies ten opsigte van ongelukstonele. “Gehoorsaam die nooddienswerkers op die toneel ten alle tye, ry stadig en versigtig verby en hou jou oë op die pad om verdere ongelukke te vermy.”
Wanneer ‘n ongeluk gerapporteer word, moet die individu op die uitkyk wees vir kilometer-merkerbordjies. Hierdie blou padtekens is elke 200 m op alle nasionale roetes aangebring. Die bord dui die roete se naam gevolg deur die seksienommer in die boonste helfte aan, gevolg deur die afstand vanaf die naaste dorp in die onderste helfte.
“Die inligting op hierdie borde help nood­dienste om vinniger op ‘n ongelukstoneel te kom en voorbereid te wees,” sê Swanepoel.

Storie & foto’s: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za

Personeel van verskeie nooddienste sien om na rolspelers wat hul as slagoffers voordoen.

Verskeie ambulansdienste het terselfdertyd by die toneel opgedaag.