full screen background image
Sharon Jansen van Rensburg en Sonja Grobler het saam meer as 50 jaar diens by Oosskool.

Onderwysers ruil Oosskool vir geen ander

239

Drie van Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se onderwysers het byna negentig jaar gesamentlike diens by die skool waar duisende leerders al deur hulle onderrig is.
Dela Kruger is al drie dekades by Oosskool, Sharon Jansen van Rensburg 29 jaar en Sonja Grobler 27 jaar.
“Oosskool het van die beste hoofde in die stad se geskiedenis gehad. Dawid Oelofse het sekerlik die grootste verandering teweeg gebring deur die tuine te vestig, die skool te laat verf, werkafbakening voor eksamens in te stel en vasgestelde vergaderings te belê. Alles dinge wat ons vandag nog sien en doen,” sê Jansen van Rensburg.
Volgens haar het vorige hoofde en selfs die huidige skoolhoof, Gideon Pelzer goed daarin geslaag om leerkragte gemotiveerd te hou en uitstekende ondersteuningsplatforms geskep.
“Ek wou nog altyd ‘n onderwyser word en was selfs as kind al die juffrou wanneer ek saam met ander kinders gespeel het. Selfs vandag is daar vir my geen groter plesier as om te sien hoe leerders regdeur die jaar groei en die vak aan die einde van die jaar bemeester nie.”
Jansen van Rensburg sê as sy die dag aftree, sal sy Oosskool as ‘n skool van uitnemendheid onthou wat spesialisopvoeding bied en dit terselfdertyd vir leerders lekker maak.
Grobler loop oor van trots oor die skool. “Ek is versot op Oosskool. Ons presteer goed, dit is aangenaam om met die leerders te werk, die personeel is ware steunpilare. Die hoof het insig en wonderlike menseverhoudings,” sê Grobler.
Sy stem saam met Jansen van Rensburg dat baie dinge verander het waarvan tegnologie die opmerklikste is. “Die dae van swartborde en wit kryt is lankal verby. Skole moes aanpas by tegnologies gevorderde leerders.”
Sy prys Oosskool-personeel en sê elke leerder wat graad 7 voltooi, is slaggereed vir hoërskoolopleiding en die volgende lewensfase. “Ek weet dat personeel iets reg doen wanneer ek sien hoe goed Osies in die hoërskool presteer, nie net akademies nie, maar ook op die sportveld. Maak nie saak in watter hoërskool hulle is nie, hulle bly ‘n Osie wat onvoorwaardelik hul waardes van integriteit, eerlikheid en opregtheid voortleef,” sê Grobler.
Kruger was ongelukkig nie beskikbaar vir ‘n onderhoud nie.

Storie en foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com