full screen background image

Olie fietsratte solank vir Lentetrap

399

Polokwane Pedellars Cycling Club (PPCC) se jaarlikse EH Hassim Lentetrap Mountain Bike Challenge is om die draai en dié gesogte wedren sal op 29 Augustus in die Polokwane Wildreservaat aangebied word.
Die Lentetrap is ideaal vir oud en jonk. Die meer ervare bergfietsryers kan aan
70 km- en 36 km-wedrenne deelneem terwyl die amateurs sake in die 17 km-wedren kan uitspook.
Die jongspan kan ook hul vernuf in verskeie ouderdomsgroepe in die kinderrit uittoets. Inskrywings beloop R160, R120, R50 en R30 onderskeidelik.
Amarillo Spur Mall of the North is die hoofborg van die kinderrit en Panarotti’s Mall of the North sal ‘n prettige ‘n vermaaklikheidsarea vir die kinders voorberei en bestuur.
Verlede jaar is die Lentetrap ten bate van Kansa aangebied en vanjaar word die opbrengs aan Ride4Rhinos geskenk.
Ride4Rhinos is vir die eerste keer in 2011 oor ‘n afstand van 125 km van Howick tot by die Weenen Wildreservaat aangebied om bewusmaking oor renosterstroping te skep en om geld in te samel vir die beskerming van renosters in die Weenen Wildreservaat.
Die eerste 200 inskrywings ontvang geskenksakke en alle ryers wat die onderskeie afstande voltooi sal medaljes wen.
Die wedren begin om 08:00 en sal as kwalifiserende ronde vir provinsiale kleure in die 37 km- en 70 km-afdelings dien.
Alle deelnemers moet valhelms dra anders sal die persoon nie toegelaat word om te ry nie. E-pos inskrywings kan gedoen word by entries.lentetrap2015@mweb.co.za.
Vir meer inligting kan belangstellendes vir Ronel Delport by 084 515 7739 of Roy Kirkpatrick by 082 443 7807 of die kinderritorganiseerder, Annelize Ziehl-Owens by 083 261 9921 skakel.

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com