full screen background image
The Police’s forensics unit on a scene at Myngenoegen where the remains of Alpheus Sekaleli were discovered on Saturday, about a month after the puzzling death of Franzi Neukomm.

Nog ’n raaisel­agtige Myngenoegen-dood

641

Net meer as ‘n maand na die raaiselagtige dood van Franzi Neukomm op die Myngenoegenpad, is die familie van Alpheus Sekaleli in rou gedompel nadat sy liggaam Saterdag­oggend ongeveer 3 km verder op dieselfde pad met ‘n skietwond gevind is.
Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het die voorval bevestig en gesê ‘n moordsaak word ondersoek. “Die insident het waarskynlik Vrydagaand gebeur. Sekaleli het ‘n skietwond aan sy ken gehad en is op die toneel dood verklaar,” sê Ramoshaba.
Sekaleli se broerskind, Thabang Harris sê die familie weet nie wat gebeur het nie. “Daar was voertuigspore op die grondpad wat lyk asof daar ‘n paar keer oor my oom gery is. Hy het ook ‘n skietwond gehad en ‘n bierbottel is op die toneel gevind,” sê Harris.
Sy sê haar oom het vroeg Vrydagaand na ‘n sjebeen in die gebied gegaan. “Mense wat by die sjebeen was, het bevestig dat my oom daar was, maar weet nie hoe laat hy daar weg is nie. Hy was op pad terug na die kleinhoewe waar hy woon en werk toe hy doodgemaak is,” sê Harris.
Ramoshaba sê die moontlikheid dat Sekaleli eers met ‘n voertuig raakgery is, word ondersoek en hy kon gister steeds geen inligting rondom Neukomm, ‘n inwoner van Myngenoegen Shelter, se dood op 12 Februarie verskaf nie.
Neukomm is langs die teerpad dood gevind nadat hy vroeër die oggend gaan draf het. Aanvanklik is daar beweer dat hy deur ‘n voertuig getref is toe hy vroegoggend gaan draf het en daarna om hulp na ‘n nabygeleë kleinhoewe gekruip het waar hy deur honde aangeval is.
Polokwane Observer het later verneem dat sy beserings nie met dié van ‘n tref-en-trap-ongeluk ooreenstem nie en dat die doodsertifikaat aandui dat hy aan onnatuurlike oorsake oorlede is.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com