full screen background image

Nog ‘n aanval in stad, bejaarde in bors geskiet

563

RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Minder as 24 uur nadat familie en vriende Vrydag van Ignat Oosthuizen, wat op 5 Mei in Serala Village met ‘n mes doodgesteek is afskeid geneem het, is Rita Bezuidenhout (77) in die vroeë oggendure Saterdag in Pleinstraat deur ‘n gewapende rower in die bors geskiet.
“Alles het soos ‘n rolprent voor my afgespeel. Toe die skoot klap was ek in ‘n beswyming en kan onthou hoe een van die rowers my armbande en ringe sagkens afgehaal het,” sê Bezuidenhout oor die voorval.
Twee mans het toegang tot haar huis gekry deur die palissadeheining voor die huis en die diefwering van ‘n venster oop te breek.
Bezuidenhout sê sy is ‘n ligte slaper en die geringste geluid maak haar wakker, maar dié keer het die twee gewapende rowers alle elektroniese toestelle soos die televisie, skootrekenaar en selfone uit die huis gedra voordat hulle by haar kamer sowel as ‘n ander kamer waar ‘n familielid geslaap het, ingestorm het.
“Ek het wakkergeskrik toe die man voor my bed staan. Ek het volgens my familielid geskreeu en toe klap die skoot. My hand was blykbaar op my bors want die koeël het my duim skrams getref, my borskas deurdring en in my nek vasgeslaan,” sê sy.
Volgens haar het die rowers presies geweet waar om te soek vir dit wat hulle wou hê. “Hulle het geweet waar ek my handsak bêre en waar in die hangkas my juwelekissie is. Kontant is ook uit my kas gesteel,” sê sy.
Sy vertel dat die familielid, wat verkies om anoniem te bly, se hande en voete met haar skoenveters vasgemaak is. Die twee rowers het daarna Bezuidenhout en die familielid se motors geteiken.
“Hulle wou eers my motor steel, maar kon hom klaarblyklik nie aangeskakel kry nie. Hulle het teruggekom en gevra watter motor die meeste brandstof in het. Hulle het my sleutel op die kombuistafel neergesit en die familielid se motor geneem,” sê sy.
Nadat hulle op die vlug geslaan het, het die familielid in die straat afgehardloop en om hulp geroep, maar niemand het op haar noodkrete reageer nie.
‘n Man in die volgende blok het haar te hulp gesnel en die polisie gekontak.
Bezuidenhout se man is in Februarie oorlede en sy bly sedertdien alleen in die huis. Die familielid het die aand van die voorval by haar oorgeslaap.
Sy is Saterdagoggend in ‘n plaaslike hospitaal opgeneem waar die koeël in haar nek verwyder is, en is Maandag ontslaan.
“Na 11 jaar in my huis sien ek nie meer kans om terug te gaan nie. My kinders wil ook nie hê ek moet terugkeer nie. Die huis sal seker verkoop word. Dit is kosbare herinneringe wat ek nou moet agterlaat,” sê Bezuidenhout.
Bezuidenhout het mense gewaarsku om nooit te gerus te wees nie.
“Maak nie saak watter veiligheidsmaatreëls jy tref nie, as hulle wil inkom, sal hulle ‘n manier vind. Die elektriese heining se alarm sowel as die huisalarm se drade is geknip voordat hulle ingekom het.”
Polokwane Polisie se hoof van kommunikasie, Ntobeng Phala het die voorval bevestig.