full screen background image
Nataniël tree binnekort by Hoërskool Pie­tersburg op. (Foto: Internet)

Nataniël tree by PHS op in Unplugged-vertoning

141

Nataniël bring op 23 Februarie sy Unplugged-vertoning na Hoërskool Pietersburg na ‘n reeks gewilde optredes landswyd.
Volgens sy webtuiste bestaan Nataniël se lewe en loopbaan ten spyte van ander avonture, eintlik net uit fantastiese stories en tydlose mu­siek. In hierdie vertoning doen hy presies dit. Hy vertel verhale wat sy gehoor meevoer, inspireer, verbaas, laat hoop en laat skaterlag. Hy sing liedere uit sy eie pen, asook splinternuwe weergawes van immergroen musiek uit die skatkis van soul, blues, pop, country, jazz en rolprente uit vergange se dae.
Hy deel die verhoog met pianis Charl du Plessis en Floris Louw is verantwoordelik vir die kostuums wat by die vertoning gedra word.
Nataniël is ‘n sanger, liedjieskrywer, impresario, satirikus, dramaturg en skrywer wat sy loopbaan in 1987 begin het met die uitreiking van sy enkel­snit Maybe Time. Sedertdien het hy talle albums uitgereik, oorspronklike teaterproduksies op die planke gebring en boeke gepubliseer.
Hy bestuur ook ‘n maatskappy, Kaalkop, wat leefstylware vervaardig en bied sy eie program op televisie aan.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com