full screen background image
Inwoners en dagbesoekers van Polokwane Nasorgsentrum vir Volwasse Intellektueel Gestremdes, Elsabé Kruger, Adri Bronkhorst en Karabo Setemani, voor, met Jaco Ferns, Saartjie du Toit, bestuurder en Sophie Efaloa, agter, bemark Tekkie Taxdag.

Nasorgsentrum gereed vir Tekkie Taxdag, dankbaar vir skenking

292

Inwoners en dagbesoekers van Polokwane Nasorgsentrum vir Volwasse Intellektueel Gestremdes gaan vanjaar, soos in die verlede, daadwerklik betrokke wees by die bemarking van Tekkie Taxdag, wat op 31 Mei plaasvind.
Tekkie Taxdag is ‘n nasionale inisiatief van 12 welsynsorganisasies wat landswyd geld insamel vir onder meer dierebeskerming, onderwys en opleiding, kinders, bejaardesorg en familiediens­te en persone met gestremdhede. Die publiek kan vooraf plakkers, T-hemde, veelkleurige veters en hoedjies koop en dit op Tekkie Taxdag dra om hul ondersteuning van die projek te toon.
Volgens Saartjie du Toit, bestuurder van die sentrum, gaan bemarking in goedgesinde winkelsentrums en op individuele basis by besighede en instansies wat die projek in die verlede ondersteun het, gedoen word.
Du Toit het beklemtoon dat instansies wat hulle vir die welstand en versorging van gestremdes beywer, grootliks van skenkings afhanklik is. “Ons inwoners word al ouer en daar is nou ‘n dringende behoefte aan twee nuwe kamers vir inwoners wat intensiewe sorg benodig. Ons bussie is ook meer as 30 jaar oud en op sy laaste bene.”
Du Toit het haar waardering uitgespreek teenoor ‘n oudiologiepraktyk in die stad wat onlangs twee gehoortoestelle aan Adri Bronkhorst, ‘n inwoner van die sentrum, geskenk het. “Adri is my regterhand met die bemarking van Tekkie Tax en kan nou baie beter hoor nadat haar gehoor die afgelope tyd erg verswak het,” sê Du Toit. Du Toit kan by 082 257 3857 of 015 297 1459 bereik word.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com