full screen background image
Die kaart toon areas waar die Botswana-aarbewing se trillings gevoel is. (Foto: Internet)

Naskok van aardskudding laat stad bewe

375

Inwoners van Polokwane het gister (Maandag) omstreeks 19:40 die trillings van ‘n vermoedelike naskok van ‘n aardskudding waarvan die middelpunt in Botswana was, gevoel.
Die skudding het volgens berigte 6,5 op die Richterskaal gemeet en ongeveer 132 km wes van Moijabana in Botswana plaasgevind. Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) kon die naskokke tot in Johannesburg gevoel word.
Inwoners van regoor die stad, sowel as Mokopane, Louis Trichardt, Alldays, Mookgophong en Pretoria het aan Polokwane Observer vertel dat hulle die bewings gevoel het.
Die aardskudding volg op ‘n skudding wat gisteroggend om 05:00 ongeveer 8,6 km suid van Stilfontein in Noordwes plaasgevind het. Trillings van dié skudding is tot in Durban gevoel.
Craig Smith, uitvoerende bestuurder van die Geologiese Assosiasie van Suid-Afrika, sê die aardskudding in Botswana was relatief vlak en nie in ‘n seismiese aktiewe area nie. Volgens Smith is dit die eerste skudding wat ooit in daardie area aangemeld is.
Hy skryf die skudding in Stilfontein aan foutlyne weens mynbedrywighede in die area toe.
Volgens waarnemende munisipale kommunikasie en bemarkingsbestuurder Matshidiso Mothapo is geen skade aan geboue of strukture aangemeld nie en Netcare Pholosho Hospitaal het bevestig dat niemand tydens die trillings beseer is nie.

Storie: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za