full screen background image

Munnik Meerkat beloof vele uitdagings

73

Bergfietsentoesiaste kan solank hul fietse vir die jaarlikse Munnik Meerkat Mountain Bike Challenge wat op 25 Maart op Munnik ongeveer 60 km buite die stad gehou word, afstof en die ratte olie.
Weens die wedren se uitdagende roete is ‘n opwindende rit vir oud en jonk gewaarborg. Daar word weer in die 70 km- 35 km- en 10 km-afstande meegeding.
Kinders kan aan die 10 km-pretrit deelneem, maar pryse word slegs aan die eerste drie meisies en seuns in die o.12- en 12 tot 13 jaar-kategorieë toegeken. Kleuters kan vir die 3 km-kinderrit inskryf.
Die wedren word in samewer­king met die Munnik Boere Assosiasie en P&L Cycle Club in Louis Trichardt aangebied en dien as kwalifiserende ronde vir ryers om Limpopo-kleure te verwerf.
Ryers in die 70 km-wedren spring om 07:00 weg terwyl die 35 km 30 minute later afgesit word. Die 10 km-pretrit begin om 07:45 met die kinderrit om 08:30. Die inskryffooie is R220, R140, R60 en R30 onderskeidelik. ‘n Daglisensie kan teen R35 gekoop word.
Inskrywings kan aanlyn by www.munnikmeerkat.co.za gedoen word of die dag van die wedren. Inskrywings sluit 30 minute voor elke wedren.Geen fietsryer sal toegelaat word om sonder ‘n valhelm deel te neem nie.
Die Munnik Meerkat Mountain Bike Challenge is ‘n gemeenskaps­inisiatief en die opbrengs word vir plaaslike welwillendheidsprojek­te aangewend. Deelnemers word gevra om blikkieskos, pasta of rys, tweedehandse klere, skoene, speelgoed en skryfbehoeftes as skenkings saam te bring.
Skakel Johan van Dijkhorst by 082 740 8740 vir meer inligting.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com