full screen background image

Munisipale hof sal help om regslas te verlig

302

Die moontlikheid bestaan dat Polokwane in die nabye toekoms ‘n hof kan kry wat hom eksklusief sal toespits op die verhoor van munisipale aangeleenthede soos verkeersboetes en die oortredings van verordeninge.
‘n Bron het gesê dit is moeilik om verkeers- of verordeningoortreders te vervolg omdat sake na bewering nie in die landdros-hof deurgevoer en afgehandel word nie.
“Daar is bloot nie tyd of plek om kleiner sake soos mense wat versuim om verkeersboetes te betaal of vir oortredings van verordeninge aangekla word, aan te hoor nie,” sê die bron.
Hy sê verder verkeersprobleme in die stad word by die dag erger omdat arrogante bestuurders weet daar sal niks van die saak kom nie en dus byna met moord wegkom.
Verlede Donderdag is ’n vergadering onder meer tussen die Polokwane Landdroshofbestuur, bestuurders van munisipale en provinsiale verkeersdepartemente en lede van die munisipale portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid gehou.
Raadslid en lid van die komitee, Johan Willemse, sê hy dryf lank reeds die inisiatief om die afhandeling van munisipale sake te bespoedig.
“Die doel van die vergadering was om koppe bymekaar te sit om die spesiale hof op die been te bring. Die besluit is voorlopig geneem dat ’n hofsaal by die huidige hofgebou moontlik beskikbaar gestel gaan word sodra die Polokwane Hooggeregshof volgende maand open,” sê Willemse.
Hy sê hy is dankbaar en opgewonde oor die besluit sodat sulke sake die nodige aandag in ’n toegewyde hof kan geniet.
Munisipale bemarkings- en kommunikasiebestuurder, Tidimalo Chuene het die vergadering sowel as die moontlike stigting van ’n munisipale hof bevestig.
“Die vergadering is inderdaad met die hooflanddros gehou en ons is besig om ‘n geskikte perseel te bespreek. Sou dit realiseer dat ’n munisipale hof op die been gebring word, sal die munisipaliteit dit verwelkom om sake vinniger af te handel,” sê Chuene.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com