full screen background image
Jaco Muller en sy pa, Bubie nadat hulle op die plaas aangeval is.

Muller vertel van mishandeling tydens plaasaanval

763

Die 83-jarige Bubie Muller en sy seun, Jaco sterk goed aan nadat hulle twee weke gelede op hul plaas op die Eerstegoud/Gey­serpad aangeval en deur sadiste gemartel is.
Bubie se ander seun, Otto, het aan Polokwane Observer vertel wat die dag op die plaas waar die familie ‘n werkwinkel bedryf, gebeur het.
“Die aanvallers het in ‘n blou Corsa-bakkie opgedaag en Jaco sr uit die werkwinkel gelok. Toe hy by die bakkie kom het twee hom getakel en met kabelbinders vasgebind. Twee booswigte is na die werkwinkel waar die werkers ook met kabelbinders vasgemaak is,” sê Otto.
Daarna het hulle hom na sy huis tot in die slaapkamer waar die kluis is gesleep. Van die aanvallers het ook na Bubie se huis op dieselfde plaas gegaan waar hy ook vasgebind en na Jaco se slaapkamer geneem is.
“Hulle het gedreig om my pa te skiet as Jaco nie die kluis oopsluit nie. Jaco se gestremde seun, Jaco jr, het die rumoer gehoor en by die kamer ingestap waarna hulle hom gegryp en gedreig het om hóm te skiet as die kluis nie oopgesluit word nie,” sê Otto.
In hul poging om die kluis met ‘n hoekslyper oop te kry het hul Jaco sr met ‘n mes gesteek en selfs met die warm lem in die gesig gebrand.
“My pa het gebid waarna die booswigte laat spaander het. Ons vermoed ‘n kontrakteur wat een van die huise op die plaas restoureer, het die skurke afgeskrik toe hy teruggedraai het om iets op te laai wat hy vergeet het nadat hy werkers afgelaai en gery het. Hulle het toe met slegs ses selfone gevlug,” sê Otto.
Benewens die beserings as gevolg van die hoekslyper is Jaco ook verskeie kere met ‘n mes gesteek en sy neus is gebreek. Bubie se wangbeen is gekraak en sy neus is ook gebreek toe hy aanhoudend in die gesig ge­slaan is. Albei is na die aanval deur ‘n geneesheer behandel.
Otto sê hulle vermoed die aanvallers het inligting van binne gehad omdat twee van die bende by elkeen van die drie plaashekke waggehou het. Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com