full screen background image

Motorsportentoesiaste ondersteun Stefan Cloete

341

Reeds van vroeg af het motorsportentoesiaste Sondagoggend by die Short Circuit Track saamgetrek om Stefan Cloete finansieel te help ondersteun.
‘n Bedrag van
R13 000 is uit hekgelde en verkope van verversings ingesamel om mee te help sodat Cloete ‘n dringende operasie, wat R70 000 kos, kan ondergaan om die amputasie van sy been vry te spring. Die been wat op drie plekke frakture het, het na 18 maande steeds nie geheg nie as gevolg van inflammasie van die beenmurg.
Stefan se ma, Annatjie verduidelik dat motorsportvriende ‘n fonds genaamd ‘Stefaans se Kreupelsorg’ begin het om te help omdat hulle nie oor ‘n mediese fonds beskik nie.
“Vandag se byeenkoms waar van die om­geboude motors en kragtige motorfietse op uitstalling was en van die uitstallers hul slag om die baan gewys het, is ons eerste po­ging. Ons is verras deur die publiek en sakelui se vrygewigheid en sal beslis nog projekte aanpak en alle skenkings en hulp op prys stel,” sê Annatjie en voeg by dat die bereidwilligheid van die motor- en motorfietsryers om sonder vergoeding aan die geleentheid deel te neem, waardeer word.
“Ons is ook spesiale dank aan Sandra Nel van Pietersburg Maatskaplike Dienste van die Hervormde Kerk verskuldig wat ons met raad en daad help en die fonds bestuur, sê sy.
Jeff de Beer, president van die Regimental Crew Motorfietsklub en Ian Saunderson, President van Metal of Honour, sê hulle het gehelp omdat betrokkenheid en hulp in die gemeenskap een van die motorfietrsryersgemeenskap se doewitte is.
Vir enige navrae of skenkings kan Sandra Nel van Pietersburg Maatskaplike Dienste by 015 295 9053 of pietersburgmd@gmail.com gekontak word.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Annatjie Cloete, Jeff de Beer, president van die Regimental Crew Motorfietsklub, Fanie Cloete en Ian Saunderson, president van die Metal of Honour Motorfietsklub.

‘Drifters’ wys hul slag om die baan.

Stefan Cloete by sy ouers, Annatjie en Fanie.