full screen background image
Neels Lötter (Wee Bill) en Ben Smit (Old Bill) van die Moth-orde van Botha Shellhole in Polokwane nooi oudvloot-, weermag- of lugmagveterane, wat onder oorlogomstandighede gedien het, uit om by die organisasie aan te sluit.

Moth-orde gaan oor kameraadskap

221

Die Agbare Orde van die Staaldakke (Moth-orde) word dikwels deur mense as ‘n organisasie vir voormalige Engelse soldate beskou, maar die denkwyse is hoegenaamd nie korrek nie.
So sê Ben Smit, die Old Bill van die Mothorde van Botha Shellhole in Polokwane. Diegene wat volgens hom kwalifiseer vir lidmaatskap in die Mothorde is oudvloot-, weermag- of lugmagvete­rane wat in oorlogtye diens gedoen het.
Die Moth-orde is as ‘n oorlogveterane-broederskap deur Charles A Evenden op 7 Mei 1927 in Durban met die hulp van elf Eerste Wêreld­oorlog gevegsfrontoorlogveterane en werksvriende gestig.
“Ons Moth-orde se rituele en tradisies is afkomstig uit die Britse kultuur met spesifieke verwysing na die tydperk van die Slag van Delvillebos toe Rhodesiërs en Suid-Afrikaners langs mekaar geveg het in dié verwoestende stryd,” verduidelik Smit.
Die Moth-eed omvat lede se drie ideale, naamlik ware kameraadskap, wedersydse hulp en ongeskonde geheue. “Groentjies tot veteraansoldate oor die hele wêreld staan vir die drie ideale tydens oorlogsdiens. Dié ideale is iets wat net voormalige dienspligtiges kan verstaan,” sê Smit.
Hy het ‘n beroep op alle vete­rane wat kwalifiseer gedoen om by die Moth-orde aan te sluit. “Dit is ‘n kameraadskap wat ‘n mens deur goeie en slegte tye ondersteun.”
Vir meer inligting of om aansoek te doen, skakel Smit by 063 287 3374.

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za