full screen background image
Links: Ignat en Simoné Oosthuizen in gelukkiger dae. Regs: Alex Chauke is altesaam tot 65 jaar tronkstraf op verskeie klagte gevonnis.

Moordenaar is ‘jammer’ nadat weduwee hom vir grudaad vergewe

696

Alhoewel Alex Chauke tydens sy getuienis ter versagting van vonnis byna geen berou oor die moord op Ignat Oosthuizen getoon het nie, het hy wel ná sy vonnisoplegging vir Oosthuizen se weduwee, Simoné, wat die aanval op die egpaar in Mei 2015 oorleef het, gesê hy is jammer oor sy dade en het haar vir haar vergifnis bedank.
Chauke het Maandag in die Seshego streekhof op vyf aanklagte skuldig gepleit en is lewenslange tronkstraf vir die moord, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, 15 jaar vir poging tot moord, vyf jaar vir ontsnapping en ‘n verdere vyf jaar vir huisbraak met die doel om te steel, opgelê.
“Ek het na die hofverrig­tinge na hom toe gestap en gesê ek vergewe hom en is dankbaar dat hy skuldig gepleit het. Niks gaan verander wat gebeur het nie en niks sal vir Ignat terugbring nie, maar ek moes hom vergewe en hy het my daarvoor bedank,” sê Simoné.
Sy glo die straf wat hy gekry het is voldoende en dat geregtigheid geseëvier het.
“Dit was ‘n emosionele tyd. Sedert die moord was dit nie ‘n maklike paadjie om te stap nie. Ek en Ignat se ma, Jane, is emosioneel uitgeput, maar nou kyk ons vorentoe,” sê sy.
Chauke pleit skuldig
Chauke se regsverteenwoordiger, Pheladi Molepo, het die verklaring waarin hy skuldig pleit aan die hof voorgelees.
Hierin het Chauke bevestig dat hy Ignat doodgemaak het nadat hy toegang tot hul meenthuis deur ‘n oop venster verkry het.
Hy het reeds van die gesteelde goedere tot op die stoep uitgedra en teruggegaan na die egpaar se slaapkamer waar Ignat wakker geword en hom gewaar het en ‘n fisiese konfrontasie ontstaan het.
Hy het erken dat hy beide Ignat en Simoné met ‘n mes gesteek het en het op al vyf aanklagte skuldig gepleit. Op die ontsnappingsklag het hy erken dat hy onwettig en opsetlik uit aanhouding ontsnap het. Hy is in Oktober gearresteer en het in November ontsnap, maar is minute later weer in die middestad aangekeer.
Simoné se getuienis
Landdros Stiaan Gericke het Simoné se getuienis voorgehou. Sy het wakker geskrik toe Ignat skreeu: “What are you doing in my house?” en getuig dat ‘n stoeiery tussen haar man en Chauke ontstaan het. Ignat het vir Chauke tot op die stoep verdryf, maar daarna teruggesteier tot in die voorhuis waar hy inmekaargesak het.
Simoné het die geveg met Chauke voortgesit totdat sy hom by die huis kon uitboender en die deur toemaak. Hy het sy aanval deur ‘n venter voortgesit en sy het ernstige beserings aan haar hande opgedoen.
Chauke getuig om versagting
Chauke het voor vonnisoplegging gesê hy pleit skuldig alhoewel hy nie weet wat met hom gebeur het nie. “Ek was nie ‘n dief nie en was nugter. Ek weet nie waar die bose gees vandaan gekom het wat my sulke dade laat pleeg het nie,” het hy gesê.
Hy het gevra dat die hof hom genadig sal wees omdat hy ‘n driejarige tweeling het om na om te sien en gereken ‘n vonnis van tien jaar sal voldoende wees vir hom om gerehabiliteer te word.
Vonnis
Gericke het aan Chauke gesê dit wil voorkom asof die bose gees hom ge­reeld besoek wanneer al die aanklagte asook ‘n vorige oortreding van aanranding met die doel om ernstig te beseer in 2012 waarop hy skuldig bevind is, in ag geneem word.
Hy het ook aan Chauke gesê die hof is van mening dat hy reeds met ‘n mes gewapen was of Ignat se biltongmes wat hy gesteel het, gebruik het om die moord te pleeg.
“Die hof aanvaar Simoné se getuienis as ware gebeure van daardie aand. Haar dapperheid is die enigste rede wat jou verhoed het om haar ook dood te maak. Sy het soos ‘n tier geveg. Jy het nooit probeer weghardloop nie en het besluit jy gaan vat wat jy wil hê. Baie mense verloor hul besittings en lewens as gevolg van mense wat soos jý optree,” het Gericke gesê.
Simoné is intussen verloof en beplan ‘n boek oor die moord en haar ervaring om ander vroue in soortge­lyke omstandighede te motiveer om te oorleef en dit te verwerk.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com