full screen background image
Wikus Coetzer se stadion trok vlieg oor die hindernisse tydens Busveld Model Racing Club se puntewedren.

Modelmotors laat wiele tol

132

Wikus Coetzer het ander renjaers in die stof gelaat tydens Bushveld Model Racing Club (BMR) se puntewedrenne onlangs by die BMR-bane in die stad plaasgevind het.
Volgens Pieter Janse van Vuuren, tesourier en enigste oorblywende stigterslid van dié klub, word die punte van die wedrenne, wat eenkeer per maand plaasvind, opgetel en aan die einde van die seisoen, in November, word ‘n klubkampioen gekroon.
Die kompetisies word in twee groepe, veldry (off-road) en toermotors, verdeel. In die veldrygroep kan lede in standaard en opgeboude tweewielaangedrewe-, standaard en opgeboude vierwielaangedrewe- en stadiontrokklasse deelneem. Hier word die modelmotors en hul beheerders se vernuf op ‘n 4×4-hindernisbaan getoets.
Die toermotorgroep se wedrenne word op ‘n baan soortgelyk aan ‘n Formule 1-baan gery. Die klasse in hierdie afdeling is standaard- en opgeboude voorwielaangedrewe motors, standaard- en opgeboude toermotors asook die Tamiya-beker.
Toermotors is kleiner weergawes van bestaande motormodelle, terwyl slegs modelmotors wat deur die Tamya-maatskappy vervaardig is aan die Tamiya-beker wedrenne kan deelneem.
Coetzer het eerste in die veldrygroep se standaard vierwielaangedrewe-klas oor die wenstreep gejaag, met Quinton Baker kort op sy hakke. Hy het ook as wenner van die standaard tweewielaangedrewe-klas asook die stadiontrok-klas uit die stryd getree. In die standaard tweewielaangedrewe-resies was Baker weereens in die tweedeplek, terwyl Waldo Jansen die tweedeplek in die stadiontrok-ren ingeneem het.
Baker het die opgeboude tweewielaangedrewe-klas gewen, met Coetzer in die tweedeplek.
In die toermotor-groep het Coetzer koning in die wedren vir standaard toermotors gekraai, met Renier Smit in die tweedeplek.
Die standaard voorwielaangedrewe-klas is deur Pieter Janse van Vuuren oorheers met Kobus Strydom wat na hom oor die wenstreep gejaag het en Dirk Badenhorst het kort voor Renier Smit oor die wenstreep gejaag tydens die Tamiya-beker kragmeting.
Smit het egter die bordjies in die klas vir opgeboude toermotors verhang en Strydom sý stof laat eet. Hy het ook die opgeboude toermotor-klas gewen met Heinrich van der Merwe in die tweedeplek.
Die BMR-klub bestaan al 28 jaar en 32 lede ding maandeliks teen mekaar op die klub se spesiaal ontwerpte bane mee. Volgens Janse van Vuuren, tesourier, is BMR die tweede grootste modelmotorklub in Suid-Afrika. Slegs Ultra Raceway in Pretoria is groter.
Klublid Hein van der Merwe vertel dat hy en sy seun baie tyd saam om die renbaan en met die opbou van hul modelmotors deurbring. Hy nooi enigeen wat in dié sportsoort belangstel om by die klub aan te sluit en meer oor die fassinerende aspekte daarvan te leer.

Storie en foto’s: THINUS DU TOIT
>>thinus@observer.co.za

Die standaard tweewiel­aangedrewe modelmotors is gereed vir die kwalifiserende ronde se afset.

Modelmotors staan en wag vir die groen lig tydens die standaard vierwielaangedrewe-klas.