full screen background image

Mnr en Mej Heuwelkruin-finaliste verlig nood in die gemeenskap

857

Dit is nie aldag dat die personeel en kleuters van Noddy’s Playground in Westenburg ‘n besoek ontvang nie, daarom was Vrydag vir hul ‘n groot verrassing toe drie finaliste van die gesogte Mnr en Mej Heuwelkruin hulle besoek het.
As deel van die kompetisie is die finaliste in groepe ingedeel en moet hulle as ‘n span gemeenskapsprojekte aanpak.
Finaliste, Arno Horn, Luca Prenzler en Kaela Steyn het met hulle eerste projek na die kleuterskool uitgereik en tyd saam met die kleuters deurgebring. Die finaliste het kolwyntjies saamgeneem wat die kleuters self kon versier en wat vir groot pret gesorg het.
Hulle het ook ‘n Wendyhuis aan dié skool geskenk wat benut kan word vir ‘n ekstra klaskamer. In samewerking met NTY Steelworks Polokwane, Woodworx Polokwane en die finaliste is die huisie kompleet met diefwering opgerig.
Die drie finaliste is dit eens dat dit ‘n wonderlike gevoel is om vir die kleuters en dié skool iets te kan doen en dat dit kosbaar was om te sien hoe die kinders se gesigte opgehelder het toe die kolwyntjies uitgedeel is.
Leony Horn, ‘n ouer van een van die fina­liste sê dat dit haar trots maak om te sien hoe die finaliste na die gemeenskap uitreik. “Hulle leer waardevolle lesse in die proses.”
Leeoni Motau, ‘n leerkrag by die skool sê dat sy verheug is oor die hulp wat hulle ontvang het. Die drie finaliste beplan ook om die skoolterrein op te kikker.
Op 3 September word Curro Heuwelkruin se mooistes gekroon wanneer dié skool hul jaarlikse Mnr en Mej Heuwelkruin-geleentheid aanbied.

LEANDRI VAN SCHALKWYK
>>leandri.observer@gmail.com