full screen background image
Plaaslike leerkrag, Antonette Jordaan, tydens haar deelname aan die Meesters Wêreldkampioenskappe in Spanje vandeesmaand.

Meestersatleet, Antonette Jordaan, vyfde op wêreldranglys

739

Toe sy destyds haar liefde vir atletiek weens kanker moes prysgee, het Antonette Jordaan nie eers daarvan gedroom dat sy twee dekades later as meestersatleet binne enkele maande so goed sou presteer dat sy haar land op internasionale vlak sal verteenwoordig en boonop vyfde op die wêreldranglys sal wees nie.
Dié 46-jarige wiskundeleerkrag van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het van 4 tot 16 September tydens die Meesters Wêreldkampioenskappe in Migala, Spanje die stad en land se naam hoog gehou nadat sy in die vyfkamp ‘n vyfde plek verower het. Boonop vind al vyf items in een dag plaas. Sy het ‘n sesde plek in gewigstoot, sewende in diskus, 13de in spiesgooi, 18de in hamergooi en 17de in gewiggooi behaal.
Eweneens het sy vier persoonlike beste afstande in gewigstoot, hamergooi, gewiggooi en vyfkamp tydens die kampioenskappe behaal.
Sy het vroeër vanjaar vyf goue medaljes tydens die Suid-Afrikaanse Meestersatletiek (Sama)-kampioenskappe in Bloemfontein verwerf om vir die wêreldkampioenskappe te kwalifiseer.
Jordaan se prestasies gedurende die jaar sowel as dié tydens die wêreldkampioenskappe het haar ‘n vyfde plek in die vyfkamp op die wêreldranglys, waaraan atlete tussen 45- en 49-jaar in die meestersklas deelneem, besorg. In gewigstoot is sy tiende en in diskus sowel as gewiggooi 17de op die lys terwyl sy met die ander items onder die top 100 in die wêreld is.
“Dit was ‘n onvergeetlike ervaring om soveel internasionale atlete met dieselfde passie te ontmoet en teen hulle te kompeteer. Alhoewel dit ‘n wêreldklaskampioenskap is, kan mens nie die ondersteuning van jou opponente miskyk nie. Ons help mekaar onderling en is nie net daar om te wen nie, maar om te sien hoe jou mede-atleet sy beste gee,” sê Jordaan wat waardevolle lesse by haar teenstanders geleer het wat sy kan toepas. “My hoogtepunt was ‘n kombinasie van alles – ek het nuwe kulture ontdek en mense ontmoet met wie ek vriendskappe gesluit het tydens dié ervaring van ‘n leeftyd.”
Jordaan meen die belewenis om ‘n 102-jarige te sien verspring of ‘n 85-jarige te sien paalspring, is ‘n bewys dat ouderdom net ‘n getal is en dat deursettingsvermoë en wilskrag die deurslag in alles wat jy aanpak, gee.
Haar prestasies is uitsonderlik omdat sy in Februarie vir die eerste keer in 20 jaar weer aktief aan atletiek deelgeneem het en haar na haar kankerervaring net op afrigting toegespits het. “Die gogga het my dadelik weer gebyt nadat ek besef het waarop ek uitgemis het. Van dag een af het ek ingeklim en hard gewerk om weer op standaard te kom.”
Die temperatuur in Migala is omtrent dieselfde as Polokwane se somertemperature (tussen 30- en 36 °C), maar die son skyn nog tot 22:00 en dit word eers lig teen 08:00. “Die ouer garde is baie behulpsaam en probeer help in hul eie taal, maar die jongeres wat meestal Engels praat is nie vreeslik bereid­willig om toeriste te help nie.”
Die Spanjaarde wat daagliks siëstas (middagslapies) en straatpartytjies hou en die strate vol standbeelde van figure wat werklik ‘n bydrae tot hul kultuur gelewer het, het Jordaan beïndruk. Sy fokus nou op voorbereiding vir die Vrystaatse Meesterkampioenskappe wat in November in Bloemfontein plaasvind en gebruik baie van haar vrye tyd om geld in te samel wat haar reiskoste kan dek.
Sy bedank al haar borge wat dit vir haar moontlik gemaak het om in Spanje deel te neem.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com