full screen background image
Polisie tydens ‘n stop- en soekoperasie gedurende Operasie Fiela II wat verlede week en die naweek regoor die provinsie plaasgevind het.

Meer as duisend tydens polisie-operasies aangekeer

969

Sedert die begin van Operasie Fiela II is 1 098 verdagtes verlede week en oor die naweek regoor Limpopo op verskeie aanklagte deur die polisie aangekeer en daar is beslag gelê op 28 gesteelde skootrekenaars, 8 wapens, voertuig en ‘n groot hoeveelheid dwelms.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die operasie wat uit padblokkades, patrollies, klopjagte en stop- en soekoperasies bestaan het, is deur lede van verskeie eenhede saamgestel en is gehou om algemene misdaad hok te slaan.
In Bela-Bela, Sebayeng, Polokwane, Modimolle, Northam en Thabazimbi is 30 skurke vas vir die besit van gesteelde goedere, dwelms en onwettige vuurwapens. Sowat 28 skootrekenaars, groot hoeveelhede dwelms, ‘n gesteelde geweer, pistool en voertuig is teruggevind.
Verskeie huise en voertuie is deursoek en 188 verdagtes tussen die ouderdom van 21 en 40 jaar is in die Tzaneen-omgewing aangekeer, ‘n shebien is gesluit en daar is op alkohol beslag gelê.
Tydens ‘n operasie naby die Beitbrug grenspos is 67 onwettige immigrante gearresteer terwyl die polisie in Mahwelereng nog tien onwettige immigrante aangekeer het. 23 verdagtes is vir onder meer die onwettige besit van vuurwapens, die besit van dwelms en verkeersoortredings aangekeer.
In Lephalale-omgewing is 43 op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding en diefstal vas. Negentien voertuie is deursoek en verwerkte dagga en daggaplante in gekonfiskeer.
Selfs in Thohoyandou het die polisie geen genade getoon nie en 232 verdagtes voor stok gekry en verskeie dwelms gekonfiskeer.
Dieselfde sukses is ook in Burgersfort behaal met drie gewere, ‘n haelgeweer, twee pistole, dwelms en skootrekenaars wat gekonfiskeer is.
Ngoepe sê in Groblersdal, Gravelotte, Botlok­wa, Dennilton, Vuwani en Zebediela is 458 verdagtes aangekeer wat binnekort in die hof op onder meer aanklagte van roof, moord, verkragting en die besit van gesteelde goedere sal verskyn.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com