full screen background image
Marnu Pelser se liefde vir die Afrikaans was gisteraand (Woensdag) duidelik op televisie sigbaar.

Marnu Pelser pronk op kassie met sy taalvaardigheid

1420

Hy is baie krities oor die korrekte gebruik van Afrikaans en verpes dit as mense nie kan spel nie, SMS-taal gebruik of hul taal meng.
Die alsydige matrikulant van Hoërskool Pietersburg (PHS), Marnu Pelser, het gisteraand (Woensdag) op kykNET se gewilde spel- en taalspeletjieprogram, Op die Spel, stof in sy opponente se oë geskop. “Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die senuwees knaag maar voor die kameras, maar dit was fantasties.”
Die tweede ronde, waaroor hy nie nou al iets wil verklap nie, word op 21 Maart uitgesaai.
Sy motivering om vir die program in die skryf was bloot om homself te toets. “Ek het in 2016 al aanlyn ingeskryf, ‘n paar toetse ontvang, maar dit nie gemaak nie. Verlede jaar het ek weer ingeskryf en ‘n telefoniese toets afgelê waarna ek meegedeel is om in die Oktobervakansie vir opnames in Johannesburg te wees.”
Marnu het ‘n groot passie vir sy moedertaal en kultuur. “My gunste­lingwoord is ghoemahare (spookasem) en ek verpes dit as mense ‘op pad’ as een woord skryf. Ek is ook mal oor kultuuraktiwiteite,” sê Marnu wat verlede jaar tot kultuurvoorsitter van die Verteenwoordigende Leerderraad (VLR) verkies is. Volgens hom is kultuur net so belangrik soos sport of akademie omdat kultuurdeelname ‘n leerder se selfvertroue ontwikkel en jou leer om op jou voete te dink. “Ek sukkel nou nog om in ‘n enkelgesprek met ‘n ander persoon te wees, maar wanneer ek voor ‘n groep moet praat, raak my tong lekker los.”
Hy speel al 12 jaar skaak en het die provinsie vier keer tydens die Suid-Afrikaanse Skaakkampioenskappe verteenwoordig. Debatvoering is nog een van sy groot liefdes en het as laerskoolkannetjie in 2010 ‘n tweede plek tydens die Wow Spelfees in Stellenbosch verower.
Marnu is sedert graad 8 deel van die skool se Klub 80 waarvoor jy ‘n gemiddelde persentasie van meer as 80% moet behaal. Hy was ook verlede jaar die vakpryswenner in rekenaartoepassingstegnologie.
Marnu het ook ‘n groot liefde vir wiskunde en fisiese wetenskappe. “In my vrye tyd leer en lees ek meer daaroor en probeer enige iets wiskundig of wetenskaplik uitwerk. Verlede jaar het ek ‘n operasie ondergaan en vooraf in die teater ‘n kennisgewing met ‘n mannetjie wat hardloop gesien. Voordat ek my kon kry het ek begin om die hoeke wat sy bewegende bene maak, uit te werk. Toe ek na die operasie wakker word, het ek glo die verpleegster uitgetrap omdat sy my wakker gemaak voordat ek my somme kon voltooi.”
Astronomie fassineer hom ge­wel­dig. “Ek doen sedert sesjarige ouderdom navorsing oor die ruimte en lees alles waarop ek my hande kan lê daaroor. In graad 3 het ek al vir my klasmaats lesse oor die sterre gegee.”
Sy groot droom is om ‘n vlieë­nier te word en ‘n Boeing 737-800 vir Mango te vlieg. “Ek spandeer die meeste van my tyd voor die vlugnabootser en dink ek is in staat om ‘n regte vliegtuig te kan vlieg. In graad 8 het ‘n vlieginstrukteur my al toegelaat om die stokke te vat. Ek verbeel my pal ek is in ‘n vliegtuig en praat vlieëniertaal. In Afrikaans.