full screen background image
‘n Vermeende inbreker by die Nedbank-gebou het Vrydagaand na sy dood geval.

Man dood na hy verdiepings ver val

701

‘n Vermeende inbreker wat glo al ‘n geruime tyd by besighede in die Nedbank-gebou in Hans van Rensburgstraat inbreek, het Vrydag­aand na sy dood geval toe hy blykbaar van die polisie probeer vlug het.
‘n Bron sê die verdagte is op die 11de vloer vasgekeer en het vermoedelik in sy ontsnappoging by ‘n venster uitgeklim om teen die gebou af te klim, maar het gegly en tot op die derde vloer se dak geval. Hy is op die toneel dood.
Die Polokwane polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba het gesê die polisie het ‘n gereg­telike doodsondersoekdossier geopen.
“Ons kan bevestig dat ‘n man van ongeveer 35 jaar van die elfde vloer van die Nebank-gebou geval het. Die omstandighede wat tot sy dood gelei het word nog ondersoek en sy identiteit en woonadres is nog onbekend.”
Die polisie het ongeveer twee weke gelede die ingang van die Nedbank-gebou versper in ‘n poging om die vermeende inbreker vas te trek, maar hy het hulle ontvlug.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com