full screen background image
Lohandi Schutte wen tydens die Kringatletiekbyeenkoms die 1 200 m en is die enigste atleet van Suidskool wat die naweek aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het.

Lohandi Schutte – Suidskool se talentvolle langasem mik hoog

405

Haar sprankelende persoonlikheid maak haar baie geliefd onder maats en onderwysers, maar haar prestasie in langafstande is ewe prysenswaardig. En sy presteer nog op kultuurgebied ook.
Lohandi Schutte, ‘n graad 5-leerder van Pietersburg Laerskool was die enigste atleet van Suidskool wat die naweek aan die Suid-Afrikaanse Skole Atletiekkampioenskappe in die Paarl in die Wes-Kaap in die 1 200 m vir o.11-meisies deelgeneem het.
Tydens die provinsiale kampioenskappe het sy goud in die 1 200 m ingepalm en is in ‘n tyd van 4:05 oor die wenstreep, nege sekondes vinniger as die kwalifiserende tyd van 4:14 om haar plek in die Limpopospan te verseker. Sy kon verlede jaar nie aan die provinsiale kampioenskappe deelneem nie nadat sy in ‘n fratsongeluk haar sleutelbeen gebreek het.
“Dit was die eerste keer dat ek aan die nasionale atletiekkampioenskappe deelgeneem het en ek het baie gestres. Ek is teleurgesteld oor my twaalfde plek en tyd van 4:07, maar dit was nietemin ‘n lekker byeenkoms en ek is steeds trots om my skool en provinsie te kon verteenwoordig. Selfs die twee meisies wat ek gedurende die seisoen weggehardloop het, het vir my hakskene gewys. Die blootstelling en ondervinding was ongelooflik.”
Haar afrigter en pa, Louis Schutte sê sy het Vrydag tydens die uitdunne saam met 15 topatlete na die finaal deurgedring.
“Haar prestasie is steeds uitstekend omdat die kompetisie in langafstande baie sterk is.” Daar is duidelik ‘n baie hegte band tussen haar en haar pa en sy meen hy is haar grootste motiveerder tydens oefentye en byeenkomste.
Om op nasionale vlak in landloop haar staal te wys, is nie vir Lohandi iets vreemds nie omdat sy sedert graad 1 jaarliks deel van die Limpopospan is.
“Ek is baie trots op my landloopprestasies. My liefde vir hardloop kom van my ouers af wat albei al vir jare atletiek afrig. Ek het in ‘n atletiekhuis grootgeword waar draf en hardloop deel van die lewe is.”
Haar ma, Johanna, se 300 m-laerskoolrekord staan steeds sedert 1984.
Lohandi oefen daagliks van Maandae tot Donderdae. “Om in langafstande te presteer, moet jy hard werk om jou tegniek in te oefen en jou pas waarteen jy gemaklik hardloop te bepaal en daarby hou. Al wat deur my kop gaan wanneer ek hardloop is die wenpaal. Ek dink aan niks anders behalwe om voor te bly nie.”
Sy is ook baie lief vir kultuur en neem graag aan redenaars en Eisteddfods deel. Sy het verlede jaar ‘n derde plek tydens die nasionale redenaarsronde behaal.
“Ek hou baie van gedramatiseerde poësie en het nog elke keer ‘n A+++-gradering in dié afdeling gekry.”
Lohandi wil graag vir die res van haar skoolloopbaan en selfs na skool aan atletiek deelneem en droom daarvan om in ‘n veeartsenykundige rigting te studeer.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com