full screen background image

Limpopo-redenaars is nie op die mond geval nie

1304

BARRY VILJOEN

Redenaars van 39 hoër- en laerskole in die provinsie het Vrydag aan die finaal van die Limpopo-ronde van die Afrikaanse Taal- en Kultuurver-eniging (ATKV) se landswye redenaarskompetisie by Curro Heuwelkruin deelgeneem.
Die finale kompetisie vind gedurende Augustus by die ATKV Goudini Spa in die Wes-Kaap plaas.
Die kompetisie bestaan uit 12 afdelings en die eerste twee leerders van elke afdeling sal Limpopo in Augustus verteenwoordig.
Volgens Nicole Senekal, onderwyser by Heuwelkruin en organiseerder van die kompetisie, word beoordelaars vanuit die hele land deur die ATKV gekies en het 165 redenaars Vrydag die geleentheid gebruik om die beoordelaars te beïndruk.
Voorbereide en onvoorbereide toesprake is gelewer en die temas was Afrikaanse spreekwoorde.
Onderwerpe soos ‘Lekker is net ‘n vinger lank’, ‘Kinders moet gesien en nie gehoor word nie’ en ‘Een vrot appel steek die ander aan’, het die gehoor se lagspiere geprikkel en hul laat nadink.
Plaaslike redenaars wat uitgestaan het was Heuwelkruin se Joané Spies en Arno Horn wat onderskeidelik vir die vyfde en elfde keer aan hierdie redenaarskompetisie deelgeneem het.
Senekal het haar dank teenoor die ATKV uitgespreek vir die hoë standaard en leiding wat verskaf is.
“Aanbieders en beoordelaars is vooraf behoorlik opgelei en ingelig en die gasheerskool is streng gekeur. Ek is baie trots daarop dat Curro Heuwelkruin vanjaar die Limpopo-finaal kon aanbied en ons geriewe met ons gaste kon deel,” sê Senekal.