full screen background image

Limpopo plaasaanvalle ergste in SA

1278

Midde-in voortdurende pogings om aanslae op weerlose grondeienaars en hul werknemers internasionaal as prioriteitsmisdaad te laat erken, is Limpopo die voorloper in halfjaar-statistiek rondom plaasaanvalle wat stygende kommer onder burgerregte-organisasies, georganiseerde landbou en politieke strukture tot gevolg het.
Die jongste syfers wat dui op 25 aanvalle en vyf moorde op plase regoor die provinsie gedurende die eerste ses maande van die jaar, posisioneer Limpopo nou heel bo aan die nasionale punteleer.
Vanaf Januarie tot die einde Junie was daar landwyd reeds 27 moorde en 116 aanvalle, luidens ‘n verklaring wat gesamentlik deur die burgerregte-organisasie, AfriForum en die landbou-unie, TLU SA uitgereik is. Statistiek dui aan dat 1 747 plaasmoorde en 3 542 plaasaanvalle tussen 1990 en middel 2015 plaasgevind het. Uit die vermoorde slagoffers was 1 133 plaasboere, 465 direkte familielede, 130 plaaswerkers en 19 besoe­kers.
In die verklaring word TLU-SA se assis­tent-hoofbestuurder, Chris van Zyl, aangehaal wat sê hoewel Gauteng tot onlangs die provinsie was waarin dié misdrywe die meeste plaasgevind het, is Limpopo nou in die eerste plek. Limpopo word gevolg deur KwaZulu-Natal, Gauteng, Vrystaat, Oos-Kaap, Noordwes, Mpumalanga, Noord-Kaap en dan die Wes-Kaap.
Volgens addisionele inligting wat deur AfriForum aan Polokwane Observer beskikbaar gestel is, is daar in Limpopo die afgelope halfjaar vier meer voorvalle as in Mpumalanga waar daar gedurende dieselfde tydperk 21 aanvalle aangemeld is en twee verwante moorde plaasgevind het. Daarna plaas 19 aanvalle en vier moorde die Vrystaat in die derde plek, en is Noordwes vierde met 16 aanvalle en twee moorde. Die Wes-Kaap en Noord-Kaap deel beide die laaste plek met drie aanvalle elk waartydens een persoon in elke geval dood is.
Uit die statistiek blyk dit dat Limpopo die provinsie met die vierde hoogste plaasaanvalle-syfer die afgelope byna 15 jaar is. Vanaf 1990 tot Junie vanjaar is 425 voorvalle op plase in die provinsie aangemeld. Die aanvalle het 188 plaasmoorde tot gevolg gehad. Gau­teng is, gemeet oor dié tydperk, eerste met ‘n syfer van 735 aanvalle en 389 moorde. In Mpumalanga het 678 aanvalle plaasgevind en is 240 verwante moorde gedurende dieselfde tydperk gepleeg en in Noordwes 615 aanvalle en 245 moorde. In KwaZulu-Natal is daar gedurende dieselfde tydvak 284 persone dood na 401 aanvalle op plase, in die Vrystaat is 184 persone dood in 373 plaasaanvalle, in die Oos-Kaap hou 125 moorde met 157 aanvalle verband en in die Wes-Kaap is 68 moorde aangemeld na 113 aanvalle. Die Noord-Kaap is weer eens in die laaste plek met slegs 24 moorde wat verband hou met 44 plaasaanvalle gedurende die betrokke tydperk.
Die statistiek sluit egter nie inligting oor die jongste voorvalle in Limpopo die afgelope minder as ‘n maand in nie, waaronder ‘n aanval in die Louis Trichardt-omgewing Vrydag. (Sien berig elders)
Die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, word in die gesamentlike verklaring deur die twee organisasies aangehaal deur te sê die feit dat die regering weier om plaasmoorde tot ‘n piriorieitsmisdaad te verklaar die grofste vorm van diskriminasie denkbaar is. Hy voer terselfdertyd die frekwensie van aanvalle, brutaliteit geopenbaar tydens die aanvalle, die rol wat boere in die samelewing speel en die ligging van plase waar aanvalle en moorde plaasvind as redes aan waarom plaasaanvalle uniek is en geprioritiseer moet word. Roets sou vroeër vandeesmaand na Australië reis om die World Society of Victimology se kongres in Perth toe te spreek en die wêreld se aandag opnuut op die aangeleentheid te vestig.
Die poging is deel van voortslepende veldtogte uit verskeie oorde om internasionale ingryping in, onder meer, kwessies van be­lang vir minderheidsgroeperings in Suid-Afrika te verseker. Intussen het Pieter Groenewald, Vryheidsfront Plus-voorsitter in ‘n mediaver­klaring verwys na die party se spreekbeurt tydens die algemene raad van die Unrepresented Nations and Peoples Organisation (UNPO) in Brussel in België waartydens twee voorleggings oor plaasmoorde en die amptelike diskriminering teen Afrikaans voorgelees en ingedien sou word. Hy het ook verwys na die jongste optrede wat volg op ‘n besoek van VF Plus-leier, Pieter Mulder aan die einde van verlede jaar aan die UNPO en die Verenigde Nasies (VN) in Geneve waar die internasionale gemeenskap ook ingelig is oor plaasmoorde, Afrikaans, regstellende aksie en ander vergrype teen minderhede in die land.
Volgens Morné Mostert, AfriForum se gemeenskapskoördineerder in Limpopo, dra die huidige stand van sake by tot groot kommer vir die organisasie en daarom prioritiseer AfriForum die mobilisering van buurt- en plaaswagte en die vestiging van georganiseerde veiligheidsnetwerke. Hy verduidelik dat AfriForum sedert verlede jaar betrokke was by die stig van heelparty buurt- en plaaswagte, maar nie inmeng waar gemeenskaps­polisiëringstrukture effektief is nie.
Intussen wys hy op AfriForum wat die afgelope naweek instrumenteel was in die uitvoer van ‘n massapatrollie in Bela-Bela en Modimolle. Volgens Mostert het die inisiatief oor klustergrense gestrek en nagenoeg 500 persone, waaronder lede van die polisie asook veiligheidsnetwerke en sekuriteitsmaatskappye, betrek. Voorlopige syfers dui op meer as 20 arrestasies in Bela-Bela alleen, sê hy.
“Gemeenskappe wat organiseer stuur die boodskap aan misdadigers dat hulle nie sal toelaat dat misdaad hul lewens regeer nie,” benadruk Mostert.
Op ‘n vraag noem hy dat AfriForum, wat al geruime tyd die Stop Die Moorde-veldtog lei, se oorsig nie rasgeïsoleerd is nie aangesien hulle ook kyk na die impak op werknemers van grondeienaars wat deur aanvalle geteiken word.
Diegene wat AfriForum wil nader in verband met die stig van veiligheidsnetwerke kan ‘n e-pos aan veiligheid@afriforum.co.za. stuur.

Storie: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com