full screen background image
‘n Tienerseun is dood nadat dié voertuig op die N1-suid omgeslaan het.

Limpopo-paaie eis 37 binne twee weke

766

Nadat daar verlede naweek 14 mense in ongelukke op die provinsie se paaie dood is het nog 23 mense die afgelope naweek in vier afsonderlike ongelukke omgekom.
Twaalf mense is dood nadat ‘n minibus verlede Donderdagaand op die N1 by Botlokwa glo teen ‘n donkie gebots het. Die bestuurder het na bewering weens die impak beheer verloor en trompop teen ‘n aankomende vragmotor gebots.
Provinsiale polisiewoordvoerder, Moatshe Ngoepe sê die minibus het van Louis Trichardt in die rigting van Polokwane gery toe die ongeluk gebeur het en die minibus in vlamme uitgebars het. Drie mense het in die voertuig verkool terwyl agt op die toneel gesterf het en ‘n twaalfde persoon later in die Botlokwa Hospitaal aan sy beserings beswyk het. Drie het die ongeluk met ernstige beserings oorleef terwyl die vragmotorbestuurder ongedeerd is.

Die wrak van ‘n Toyota-bakkie waarin vyf mense in ‘n kettingbotsing op die N1 dood is. Agt mense het in dié botsing gesterf.

Ngoepe sê slegs drie oorledenes is geïdentifiseer terwyl die minibusbestuurder, wat verkool het, ook reeds deur familie uitgeken is, maar dat hulle steeds op DNS-uitslae wag voordat sy naam bekendgemaak word. Salphina Muleya van Thohoyandou, Temsem Zerfu van Ethiopië en Barbara Dhendere van Zimbabwe het in die ongeluk gesterf.
Enigiemand wat met die ander oorledenes se identifikasie kan help, word versoek om by die Botlokwa polisiestasie aan te meld.

Agt mense is Vrydagmiddag dood nadat drie voertuie en ‘n vragmotor op die N1-suid naby Mookgophong gebots het. Ngoepe sê vyf mense wat in ‘n dubbelkajuitbakkie gereis het en drie insittendes van die ander voertuie is in die kettingbotsing dood waarvan die oorsaak nog onbekend is.
‘n Seun tussen 10 en 12 jaar is Sondagmiddag op die N1 naby die Kranskop Toll Plaza oorlede nadat die bestuurder van ‘n voertuig waarin die seun was, glo beheer verloor en die voertuig omgeslaan het. Vier mense is ernstig beseer.
Twee lede van Westenburg V-Dub Crew is die naweek na dié organi­sasie se jaarlikse Charity Bash op die N1-suid buite Mokopane in ‘n ongeluk dood. Sien storie hiernaas.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com