full screen background image
Nooddienswerkers op ‘n ongeluks­toneel op die N1 gisteroggend (Woensdag) waarin twee mense dood is.

Lim-paaie eis 13 in twee gru-botsings

665

Die voortslepende slagting op Limpopo se paaie het sedert Maandag nog 13 lewens in twee afsonderlike ongelukke geëis.
Tydens die nuutste voorval op die N1 naby Ysterberg is twee mense dood toe ‘n luikrugsedan en twee bakkies waarvan een ‘n sleepwa getrek het, teen mekaar gebots het.
Die oorsaak van die botsing was teen druktyd nie bekend nie, maar woordvoerder van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid, Matome Moremi-Taueatsaula het gesê die snelweg sou vir ‘n wyle gesluit wees terwyl die toneel opgeruim word.
Intussen het LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, Makoma Makhurupetje, haar medelye met die families van 11 oorledenes in ‘n botsing wat Maandagoggend op die N11 in Sekhukhune plaasgevind het, uitgespreek.
In ‘n persverklaring sê sy twee persone is ook ernstig beseer. Volgens haar het ‘n Mercedes-Benz vragmotor glo onveilig op ‘n sperstreep verbygesteek en trompop met ‘n aankomende Nissan bakkie gebots. Die bestuurder van die bakkie en die tien passasiers is op die toneel dood verklaar.
“Dit is ‘n tragedie vir die mense van Limpopo. Aanduidings is dat dié botsing bloot ‘n voorval van roekelose bestuur was. Terwyl die ondersoek voortduur, sal ons nie huiwer om stappe teen die skuldige party te neem nie,” sê Makhurupetje.
Sy het verder aangedui dat vragmotorbestuurders wat aanhou om onskuldige padgebruikers se lewens in gevaar te stel, se dae getel is. “Ons veroordeel ook die oorlading van voertuie en die gebruik van bakkies om mense aan te ry,” het sy gesê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com