full screen background image

Leerders sweet op fietse om skoolfonds te styf

100

Deelnemers en ondersteuners van Akademie Reformia se jaarlikse spinning marathon het onlangs opnuut bewys dat oud en jonk op ‘n prettige wyse geld vir die skool kan insamel.
Deelnemers het reeds teen 14:00 begin trap en die 32 spanne wat elk uit ‘n maksimum van agt lede elk bestaan het, het mekaar uitgedaag om die wenners te bepaal.
Ondersteuners het die spanne aangemoedig en stalletjies wat deur ouers en personeel beman is, het gesorg dat daar genoeg eet- en drinkgoed was om die energievlakke hoog te hou.
Skoolhoof, Hennie Combrink het self saam met personeellede deelgeneem en gesê die opbrengs van verkope word vir die skool se algemene uitgawes aangewend.
“Ons is baie dankbaar vir die ondersteuning van besighede en inwoners en die deelname van ons buurskole, Pietersburg Laerskool en Laerskool Piet Hugo word op prys gestel. Daar is ‘n hele paar pryse, wat ‘n kinderpartytjie ter waarde van R1 500 vir die beste kinderspan en geskenkbewyse insluit op die spel en dit sou nie moontlik gewees het sonder ons gereelde ondersteuners se bydraes nie,” sê Combrink.
Die geldinsameling het ‘n stewige R44 700 vir die skool ingebring.

Storie en foto’s: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com

Christiaan Hoogendyk en Jacques Lister van die Proforumspan woeker tydens die marathon.

Kleinbegin Kleuterskool se span, Ansie Grobler, Karin Gouws en Susan Coetzer spog in hul spandrag.

Lynette Oosthuizen doen haar deel vir die Adventure Boot Camp-span.

Personeellid, Riekie Roets van Akademie Reformia in aksie.