full screen background image

Leerder sterf, dept erken probleem met oorlaaide voertuie

597

Vrae oor die departement van vervoer, veiligheid, sekuriteit en skakeling se strategieë en vermoë om oorlaaide voertuie van Limpopo se paaie te verwyder, het ontstaan nadat Hoër Tegniese Skool Tom Naudé-leerder, Stiaan van der Walt (17) en sy broer Coetzee (6), van Laerskool Messina, Saterdag in ‘n botsing oorlede is.
Departementele woordvoerder, Kagiso Mootane sê die departement doen alles in hul vermoë om onpadwaardige en oorlaaide
voertuie van die provinsie se paaie te verwyder.
“Ons het ‘n probleem met groot getalle oorlaaide voertuie wat die provinsie van buurprovinsies of -lande binnekom. Die bestuur-ders ry snags om verkeersbeamptes te vermy of gebruik alternatiewe roetes,” sê Mootane.
Sy sê swaar- en oorlaaide voertuie word daagliks by weegbrûe afgetrek en getoets.
Sedert die begin van Junie tot Dinsdag is ses oorlaaide voertuie geskut en die bestuur­ders beboet. In dieselfde tydperk is 140 ligte voertuie geskrap en twee geskut. Agt busse is van die pad verwyder as gevolg van onpadwaardigheid en ‘n verdere 13 is geskut. Tien minibustaxis is ook verwyder met ‘n verdere 66 wat geskut is. ‘n Totaal van 96 swaarvoertuie is ook van die provinsie se paaie verwyder.
“‘n Totaal van 155 voertuie is verwyder en 127 is geskut. Ons het 90 bestuurders vir dronkbestuur gearresteer en 43 vir spoedoortredings,” sê Mootane.
Stiaan, Coetzee en hul pa, Kobus, was Saterdag op pad terug na Musina van ‘n wildplaas af toe die botsing plaasgevind het.
Kobus se broer, Calie sê ‘n oorlaaide voertuig met sleepwa het na bewering op ‘n blinde hoogte op die pad tussen Musina en Alldays onklaar geraak.
“Die sleepwa se as het vermoedelik gebreek en die voertuig is net daar laat staan met geen waarskuwingstekens wat aangebring is om motoriste te waarsku nie. Kobus, wat self ‘n waentjie gesleep het, het vermoedelik vir die stilstaande voertuig probeer uitswaai, maar het beheer oor sy bakkie verloor en die bakkie het omgeslaan,” sê Calie.
Coetzee het volgens Calie op Stiaan se skoot gelê en slaap. Beide kinders is uit die bakkie geslinger. Stiaan is op slag dood terwyl Coetzee op pad na ‘n hospitaal in Polokwane aan sy beserings beswyk het.
“Dit is tragies en die familie is stukkend. Stiaan en Kobus het onlangs begin om ’n hegte pa-en-seun-verhouding aan te knoop. Hy wou alles saam met sy pa doen. Stiaan was ’n lieflike jong seun en beide seuns se dood laat ’n groot leemte in die familie,” sê Calie.
Kobus sou na verwagting gister (Woensdag) uit Mediclinic Limpopo ontslaan word nadat hy vir observasie opgeneem is. Hy het verskeie ribbes gebreek en ook hoof- en nekbeserings opgedoen.
Begrafnisreëlings sou gefinaliseer word sodra Kobus ontslaan is. Benewens hul pa, laat Stiaan en Coetzee hul ma, Philna en ouer suster, Marianné agter.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com