full screen background image
Die twee verdagtes in verband met die moord op Tanya Wiers verlede maand, Frans Maela en Alfred Hlongoane is gister (Woensdag) borgtog geweier.

Landdros weier borgtog vir Wiers-moordverdagtes

382

Die afgryslike manier waarop Tanya Wiers vermoor is en die feit dat niks in hul guns getel het om borgtog te kry nie, was die beweegrede waarom landdros Janine Ungerer beide verdag­tes borgtog geweier het.
Sy het gister (Woensdag) die saak in die Polokwane landdroshof tot 26 Mei vir verdere ondersoek uitgestel en gelas dat Frans Maela en Alfred Hlongoane in aanhouding bly.
Voordat sy uitspraak gelewer het, het Ungerer gesê sy gaan nie ‘n opsomming van die getuienis in die langdradige borgaansoek lewer nie. “Dis is moeilik om tydens ‘n skedule 6-oortreding uitsonderlike omstandighede in so ‘n mate te bewys dat dit in die belang van die regstelsel is om die verdagtes op borgtog vry te laat. ‘n Borgaansoek verskil van die verhoor en die staat het nodig gehad om slegs ‘n prima facie-saak teen die twee verdagtes te bewys. Die staat het daarin geslaag met die getuies wat geroep is asook die bekentenis wat vrywillig deur Maela gemaak is waarin hy Hlongoane by die moord geïmpliseer het. Hoorsêbewyse is tydens ‘n borgaansoek aanvaarbaar om so ‘n saak te bewys,” het Ungerer gesê.
Sy het verder gesê Hlongoane se vrou, Cathrine Lemekoane, se getuienis dat hy die dag van die moord heeldag by die huis was, hou geen water nie. “Hoe minder ek oor haar getuienis sê, hoe beter. Ek weet nie hoe om die moord te beskryf nie, maar dit het definitief die gemeenskap geskok,” het Ungerer gesê.
Wiers is op 7 Februarie in haar huis in Eduanpark vermoor. Haar aanvaller het glo eers ‘n skêr gebruik om haar te steek. Nadat die skêr gebreek het, het hy ‘n mes gebruik om haar in haar gesig, skouers, nek en hande te steek en haar oë te verwyder. Maela, die buurman se tuinier is later die middag deur die polisie in hegtenis geneem nadat van die gesteelde goedere soos ‘n selfoon, juwele en ‘n tabletrekenaar in sy besit gevind is. Maela het Hlongoane, die Wiers-gesin se tuinier, in ‘n bekentenis by die moord geïmpliseer waarna hy ook drie weke later aangekeer is. Wiers se man, Rolf sr, sê hy is verlig oor die borgtogweiering.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com