full screen background image

Kwiltkoningin wen groot met eerste inskrywings

826
‘n Spogwerk,‘Mystery Quilt’.

‘n Spogwerk,‘Mystery Quilt’.

Linda Oerlemans is so beskeie dat sy ongemaklik is dat mense van haar onlangse kwiltprestasie, twee eersteplekke tydens die 18de Nasionale Kwiltfees, te hore moet kom.
Linda vertel sy kwilt al vir 20 jaar, maar het vanjaar op aandrang van haar man, Bartlo, twee van haar kwilts ingeskryf en beide het loshande gewen. Die fees word jaarliks deur die KwaZulu-Natal Kwiltgilde gehou en is vanjaar van 3 tot 6 Julie by Kearsney College in Durban aangebied.
Haar Dear Jane-ontwerp het die ander inskrywings in die opekategorie uitgestof en Robin’s Nest het in die groepskategorie geseëvier. Sy het dit in dié kategorie ingeskryf omdat ‘n vriendin dele van die kwilt met haar masjien gewerk het. Dear Jane is egter heeltemal handgemaak. Beide is bestaande ontwerpe wat uit die 19de eeu dateer en wat kwilters hul eie kan maak.
Wanneer mens in ag neem dat Dear Jane uit 169 blokke en 72 driehoeke bestaan en dat sowat 12 000 stukkies lap vir hierdie kunswerk gebruik is, is dit moeilik om te glo dat elke steek met die hand gewerk is. Linda sê sy het byna twee jaar lank daaraan gewerk.
Sy het begin kwilt terwyl sy haar kinders na al hul buitemuurse aktiwiteite moes aanry en vir hulle moes wag. “Aan die begin het ek met ‘scrap quilting’ begin, wanneer jy enige lappie gebruik waarop jy jou hande kan lê.”
Later het haar werk meer gesofistikeerd geraak en sy reken die feit dat daar nou ‘n kwiltwinkel in die stad is, is ‘n aanwins vir die Koraal Kwiltgilde; ‘n groep waarvan sy die voorsitter is en wat weekliks byeenkom.
“Ons is ‘n lekker groepie wat mekaar aanmoedig en help, maar ook die sweep klap wanneer iemand dit nodig het,” sê sy.
Linda gebruik 100% katoenlap wat spesiaal gemaak word vir kwiltwerk en ook spesiale liniale, kwiltnaalde en ander toebehore.
Bartlo is haar grootste aanhanger. “Ek het vir haar gesê sy moet inskryf, want ek sien jaar na jaar wie hierdie kompetisies wen en ek weet haar werk is enige dag net so goed.” Hy is ook nie sku om massas lap vir sy talentvolle vrou aan te koop nie.
Weens die fyn werk het Linda haar skouer beseer en is sy nou versigtig om groot projekte aan te pak, maar sy hou nie op met haar geliefde tydverdryf nie. “Een van my kwilts, die Sylvia, het meer as twee jaar geneem om te voltooi en was so arbeidsintensief dat ek my in die fisioterapeut se spreekkamers ingewerk het,” vertel sy laggend.
Alhoewel die meesterstukke baie gewild is en hoë pryse by verkopings behaal, wil Linda nie haar unieke handwerk verkoop nie en sê sy gee dit eerder vir geliefdes.
“Kwilters het nie sielkundiges nodig nie, want dit wat ons doen is terapeuties en bring groot vervulling,” sluit sy af.

Storie: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Linda Oerlemans se wenkwilt, die Dear Jane.

Linda Oerlemans se wenkwilt, die Dear Jane.