full screen background image
Dewan Jacobsz met ‘n 86,14% is Curro Heuwelkruin se topmatriek vir die klas van 2019. (Foto: Verskaf)

Kruinies vier dekade met 100% slaagsyfer

456

Curro Heuwelkruin het goeie rede om breëbors te wees nadat die graad 12-leerders van 2019 die tiende groep geword het om ‘n 100% slaagsyfer in die onafhanklike eksamenraad (IEB) se finale eksamen te behaal.
Kruinies se uitvoerende hoof, Eben Lingenfelder sê na ‘n dekade van kwaliteit­onderrig kan die skool spog met ‘n 100% slaagsyfer vir 10 agtereenvolgende jare met 93% van kandidate oor die afgelope 10 jaar wat toelating tot graadstudies verwerf het.
Volgens hom het die 2019-matriekgroep uit 34 leerders bestaan waarvan 32 (94%) toelating tot graadstudies verwerf het. Die groep spog met ‘n klasgemiddeld van 69,06%.
Die toppresteerders volgens gemiddeldes is Dewan Jacobsz met 86,14% gevolg deur Poena van Wyk (81,43%) en Leard Prenzler (81,14%). ‘n Verdere 15 leerders behaal ‘n B-gemiddeld terwyl 11 leerders ‘n C-gemiddeld behaal, volgens Lingenfelder.
Dewan en Bathabile Mahlake eindig onder die top 1% leerders in die land in besigheidstudies terwyl Marike de Kock dieselfde prestasie behaal in lewensoriëntering.
Dewan behaal verder onderskeidings in Afrikaans Huistaal (81%), Engels eerste addisionele taal (84%), wiskunde (87%), besigheidstudies (92%), ingenieursgrafika en ontwerp (IGO) (91%) en lewensoriëntering (89%). In fisiese wetenskap loop hy ‘n onderskeiding met 1% mis deur 79% te behaal.
Die volgende vier leerders behaal elk vier onderskeidings:
Poena – IGO 95%, Engels eerste addisionele taal 82%, lewensoriëntering 84% en wiskunde 85%
Leard – IGO 91%, Engels eerste addisionele taal 80%, inligtingstegnologie 85% en lewensoriëntering 87%
Anje Dorfling – Afrikaans huistaal 86%, dramatiese kunste 88%, Engels eerste addisionele taal 88% en lewensoriëntering 89%
Mosidi Mapheto – Afrikaans eerste addisionele taal 81%, besigheidstudies 91%; IGO 92% en lewensoriëntering 84%
Bathabile, Tasmiyah Moosajee, Roelof Neuhoff, Thalia Perreira en Ashden Venter behaal elk drie onderskeidings terwyl sewe leerders twee onderskeidings elk verwerf.
IGO, wat deur top leerkrag Mynie Nel aangebied word is weer eens die toppre­sterende vak in Kruinies met ‘n klasgemiddeld van 82,73%, ‘n volle 16% bo die landswye gemiddeld vir die vak, volgens Lingenfelder. Landbouwetenskappe merk 14% hoër as die landswye gemiddeld uit terwyl Afrikaans eerste addisionele taal die landswye gemiddeld met 11% troef. Besigheidstudies behaal ‘n gemiddelde 8% hoër as die landswye gemiddeld.
“Met die vierde industriële rewolusie in volle swang is die skool trots daarop dat in vakke soos wiskunde (62%), fisiese wetenskappe (58%) en inligtings­tegnologie (72%) die leerders van Curro Heuwelkruin deeglik onderlê is vir die uitda­gings van die toekoms. Die skool is vol vertroue dat die klas van 2019 hul volwaardige plek as landsburgers sal kan vol staan.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com