full screen background image

Kotie Kruger se 99ste vrolik gevier

171

Dit gaan nog wel met die 99-jarige Kotie Kruger, inwoner van Macadamia Sorgsentrum wat verlede Woensdag sy verjaardag saam met kinders, kleinkinders en agterkleinkinders by die sentrum gevier het.
Familie en inwoners het by ‘n smullekker middagete met al Oom Kotie, soos hy algemeen bekendstaan, se gunstelingdisse wat spesiaal vir die geleentheid voorberei is, aangesit. Gebraaide skaapboud, gemmerpatats, lemoenwortels, roomspinasie, geroosterde aartappels en sy gunsteling beet- en groenslaai was die hoofgereg, terwyl ‘n roomyskoek as nagereg voorgesit is.
Familie en vriende het ‘Laat Heer U seën op hom daal’ met trekklavierbegeleiding gesing en ná ete het sentrumperso­neel hom in Sepedi met ‘Ogole O gole’ gelukgewens.
Oom Kotie het tot vyf jaar gelede op die plaas, Enkeldebos by Kalkbank, sowat 40 km buite die stad met beeste, skape en aartappels geboer en was met Lizzie getroud wat hom in 2011 ontval het.
Die egpaar het twee dogters, Adri Potgieter van Pretoria en Martie Haasbroek van Lephalale, tien kleinkinders en 18 agterkleinkinders. Twee seuns, Nico en Johan, is reeds oorlede.
Kruger stap volgens Haasbroek nog kort entjies, maar gebruik ‘n rolstoel vir langer uitstappies. “Hy is ook die oudste oorlewende lidmaat van die NG Kerk Moedergemeente.”

Storie en foto: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com