full screen background image
‘n Oorstelpte Annemarie du Plessis spog met Pietersburg Fotografieklub se gesogte Fotograaf van die Jaar-trofee wat Vrydagaand aan haar toegeken is.

Klein begin met pa se kamera, passie vir foto’s lei tot top-trofee

1367

Gewapen met haar pa se silwer kamera op die agtersitplek van die gesinsmotor op pad Kruger Nasionale Park toe tydens hul jaarlikse vakansies sou ‘n jong Annemarie du Plessis nooit kon droom dat haar fotografie­­-talent later in haar lewe in gerekende publikasies sou pryk nie.
Haar passie vir fotografie het destyds diegene om haar telkemale laat maan om die geleende kamera waaruit sy soveel genot geput het met die oneindige dokumentasie van gesinslede, gebeure en diere tog uiteindelik neer te sit.
Ses jaar gelede het dinge verander toe sy haar mik-en-druk-kamera vir professionele toerusting verruil het en haar vriendin en sakevennoot, Zani Prinsloo haar drie jaar gelede begin aanpor het om iets met haar foto’s te doen. Só het sy in Augustus 2016 by die plaaslike fotografieklub aangesluit, inskryf vir fotokompetisies en die een mylpaal na die ander behaal.
Du Plessis het Vrydagaand skoonskip gemaak tydens Pietersburg Fotografieklub se jaarlikse prysuitdeling in Polokwane. Sy is met sewe trofeë huis toe, insluitend die gesogte toekenning wat vir die klub se Fotograaf van die Jaar gereserveer word. Dít, reken sy in ‘n onderhoud na afloop van die funksie, was waaroor sy begin droom het.
Tot dusver het haar klubdeelname aan haar vier sterre op ‘n meriete-glyskaal besorg, met haar eerste ster wat sy verlede jaar behaal het vir maandelikse inskrywings van drie foto’s in kleur, drie in swart-en-wit asook ‘n voorgeskrewe onderwerp.
As een van 12 finaliste in die uitdunne vir die gesogte Africa Geographic Fotograaf van die Jaar 2017-titel, is ‘n dubbelblad afgestaan aan haar foto van ‘n olifant met springbokke wat sy tydens ‘n Etosha-vakansie in Namibië geneem het. Vier van haar foto’s is reeds weeklikse fina­liste vir die publikasie se Fotograaf van die Jaar 2018-kompetisie. Du Plessis se natuurleweskote is duidelik die X-faktor wat daartoe bydra dat haar werk vir haar ‘n welverdiende plek onder vooraanstaande wildlewefotograwe besorg.
Haar foto van ‘n buffel wat in die Kruger Nasionale Park wei is daarbenewens in die Getaway Magazine se 2018 Wildlife-kalender vervat nadat dit as finalis onder die Julie 2017-inskrywings uitgesonder is.
‘n Foto van ‘n luiperd wat sy in 2016 vir die Weg!-tydskrif se voorbladfoto-kompetisie ingeskryf het, het verlede jaar ‘n plek op die voorblad van die reisgids se Krugeruitgawe losgeslaan.
Terwyl sy deesdae met drie kameras en drie verskillende lense werk reken sy dat enige foto met enige toerusting geneem kan word, alhoewel die kwaliteit van ‘n foto wat met ‘n spesifieke kamera geneem word dalk nie vir vergrote reproduksiedoeleindes geskik is nie.
Haar toerusting is altyd op die aksieverstelling gestel en byderhand in die voertuig, ongeag of daar bos of see toe gegaan word.
Volgens haar tel tyd en geduld gewis onder die faktore wat tot geleenthede lei vir die vasvang van ‘n wenfoto. Om op ‘n dag ‘n skoot van ‘n luiperd langs die S25-roete naby Krokodilbrug te kry het hulle glo van 09:00 tot 15:00 onder ‘n boom gewag sodat Du Plessis 200 foto’s kon neem.
Sy gee toe dat sy graag haar jongste suksesse met haar oorlede predikantpa sou wou deel. Met ‘n “Soli Deo Gloria”-onderskrif by al haar foto’s verheerlik sy God. “Dit is die Here se skepping. As ek dit kan afneem en vir ander kan wys is dit fantasties. ‘It’s a moment in life never to be repeated’.”

Storie en foto: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com