full screen background image
Lede van Limpopo Classic Car Club wat Dinsdagoggend op ‘n toer van 4 000 km na die Wes-Kaap vertrek het.

Klassieke motor­klub op 4 000 km toer

424

Lede van Limpopo Classic Car Club het Dinsdag vanuit Polo­kwane op ‘n toer van ongeveer 4 000 km ter herinnering van die lewe van stigterslid, John Hudson wat verlede jaar oorlede is, vertrek.
Ongeveer 18 lede is deel van die groep wat die pad na George in die Wes-Kaap in motors wat uit die 1960’s en selfs ouer dateer, aandurf.
Een van die lede, Ben Olivier, sê daar word jaarliks ‘n uiters gesogte motorskou in George gehou en Hudson was nie net ‘n stigterslid van Limpopo Classic Car Club nie, maar het ook die inisiatief om jaarlikse na dié motorskou te reis, begin.
“Vanjaar ry ons die John Hudson 4 000 om sy lewe te vier. Van Polo­kwane ry ons na Bloemfontein en vandaar oor Matjiesfontein na George. Ons gaan ‘n draai maak in Stellenbosch, Bothaville en Victoria-Wes voordat ons Dinsdag terug in Polokwane sal wees,” sê Olivier.
Die groep sal op die roete by agt versamelaars aandoen om mekaar se spogstukke te bekyk en gedagtes en ondervindinge te deel.
‘n Ondersteuningsvoertuig met sleepwa ry ook saam. “Dit is ou motors wat geneig is om langs die pad te breek, maar dit is deel van die opwinding,” sê Olivier.
Onder die vloot is onder andere ‘n 1967 MG GTB, ‘n 1972 Citroën Pallas en ‘n MG TC wat uit die 1930s dateer. Laasgenoemde word op die sleepwa vervoer omdat slegs kort afstande met dié motor gery kan word.
Lede met meer moderne motors soos ‘n Ford Mustang en Mini Cooper maak ook die toer mee.

Storie & foto: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com