full screen background image
Die foto is verlede jaar tydens die kerkdiens in Gooik, België op die laaste skooldag geneem wat skoolkinders en hul ouers bywoon.

Kersfees in die sneeu in België

803

Voormalige inwoners van Polokwane, Ethel en Edward Vleminckx en hul dogter, Lizelle Botes woon die afgelope 17 jaar in België. Lizelle is met Philippe Decook getroud en hul het twee seuns, Arnaud (7) en Alexander (4). Hul vertel meer van hul Kersfeesrituele.
Tradisioneel is België ’n katolieke land wat tradisies (veral die Paasfees en Kersfees) streng in stand hou.
’n Aantal weke voor 6 Desember word daar by elke Poskantoor ’n rooi posbus geplaas waar al die briewe van die kindertjies met al wense oor wat hulle graag van Sinterklaas as geskenk wil hê, gepos kan word.
Sinterklaas (die Sint afgelei van Sint Nicholaas) is al ‘n tydjie in België nadat hy met sy stoomboot van Spanje in die hawe vasgemeer het. In sy tradisionele toespraak bevestig hy dat daar nie ‘n enkele stout kind die afgelope jaar was nie en dat niemand oorgeslaan gaan word wanneer hy op 6 Desember presentjies gaan uitdeel nie.
Die aand van 5 Desember word daar deur elke kind met groot opgewondenheid ’n skoen uitgesit en ook, baie belangrik, ’n wortel vir die perd waarmee Sinterklaas rondry en ook nog ’n biertjie daarby vir ingeval hy dors word. Op 6 Desember word daar in elke huis baie vroeg opgestaan om met groot verwondering geskenke oop te maak wat die Sint gebring het.
Ondertussen begin Kersversierings oral kop uitsteek. Elke dorp en stad het spesiale beligting vir die feesdae en in byna elke huis word ’n egte denneboom versier. Die laaste skooldag (hier is die Kersvakansie baie kort) word ‘n tradisionele kerkdiens in die plaaslike kerkgemeente gehou waarheen al die skoolkinders en ouers gaan.
Op Oukersaand kom families saam om die tradisionele feesmaaltyd te geniet – bygesê dat ons dit al in die verlede moes afstel omdat dit soveel gesneeu het dat ons dit nie in voertuie kon waag nie. Omdat Sinterklaas al presente gebring het, word hier nie veel klem op Kersgeskenke gelê nie. Omdat ons gewoond was om met Kersaand geskenke te gee hou ons dit ook nog (na sewentien jaar) in stand en lê daar weer pakkies onder ons Kersboom. Die kleinkinders neem dit dan op as taak om dit met groot opwinding uit te deel.
Die Belge drink baie sjampanje en met elke samekoms word ’n sjampanjefles oopgemaak om die geleentheid te begin. Maaltye hier neem ure en hulle gebruik ook die woord “tafelen” as werkwoord. Dit is nie snaaks om tot byna middernag nog om die tafel te sit en kuier nie.
Die Kerskalkoen is steeds die algemeenste hoofdis en die tradisionele Kersstronk is die afsluiter van die maaltyd en bestaan meestal uit die mooiste ver­sierde roomys of koekstruif wat baie mooi versier word. Sjokolade word ook by die kilo’s verorber.
Om middernag is daar dan die tradisionele “Misviering” met nagmaal en na die kerkdiens word almal dan “Zalig Kerstmis” of “prettige feesdagen” toegewens.