full screen background image
Dié flaminke het Dinsdagoggend by CapriCom opgedaag as deel van ‘n fondsinsamelingprojek deur ‘n sekere klas vir Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se jaarlikse kaskarresies. Foto: Verskaf

Kaskar-fondsinsameling met ‘n verskil

79

Daar is tans ‘n swerm pienk flaminke wat sedert Dinsdagoggend hul opwagting by ‘n verskeidenheid besighede in die stad maak en die enigste manier om van hulle ontslae te raak is om op te dok vir Hoër Tegniese Skool Tom Naudé se jaarlikse kaskarresies wat op 1 Maart aangebied word.
Die projek word deur ‘n sekere klas gedryf met die oog op die prys vir die klas wat die meeste geld vir die skool se grootste fondsinsamelingsgeleentheid invorder. Vir eers is die klas anoniem, maar besighede word steeds aangemoedig om dié inisiatief te ondersteun.
“Dit is iets anders as die gewone blikskud of rondloop en vra vir donasies. Die leerders geniet dit baie en is oortuig daarvan dat hulle vanjaar as die wenklas aangewys gaan word,” sê ‘n ouer wat dié inisiatief bestuur.
Sy verduidelik dat daar tien flaminke is, elkeen met sy eie persoonlikheid en naam. Die selfgemaakte flaminke het Dinsdagoggend by CapriCom opgedaag met ‘n briefie om een se nek wat aandui dat hulle nie verwyder mag word nie.
Die enigste manier om hulle te verwyder is om die kontakpersoon op die briefie te skakel en ‘n prys as donasie te onderhandel voordat hulle verwyder sal word.
Besighede kan ook ‘n flamink aanneem teen R1 000 elk, maar die flamink bly saam met die ander tot aan die einde van die kaskarresies waarna ‘n aannemingsertifikaat en die flamink as ‘n aandenking aan die betrokke besigheid oorhandig sal word.
Besighede word verseker dat die geld inderdaad vir die kaskarresies geïn word en belangstellendes word hartlik uitgenooi om die aksiebelaaide resies by die skool by te woon en deel van die pret te wees.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com