full screen background image

Karel Ferreira: ‘n pa wat blydskap groei en liefde oes

1389

RC Myburgh

Om altyd jou beste te gee, net jouself te wees, herinneringe te bou en dankbaar te wees is die waardevolle lesse wat BB Groep-handelaarshoof, Karel Ferreira van sy pa, Steve geleer het en op sy beurt aan sy kinders oordra.
“Vadersdag is ‘n dag om dankie te sê vir jou gesin en om jou trots te wys,” sê hy.
Hy vertel ‘n staaltjie oor ‘n pa en seun se gebede: “Eendag hoor ‘n pa sy seun bid, ‘Jesus help my om soos my pa te wees’ terwyl die pa later die aand bid, ‘Here maak my die man wat my seun wil wees.’ Ek word deur dié staaltjie gelei om ‘n goeie pa vir my kinders, Kailan en Tammylee te wees.”
Ferreira beskryf die verhouding met sy pa as respekvol met ‘n sterk band van vertroue en sê dat hy sy pa as sy beste vriend beskou.
“Die grootste geskenk wat my pa vir my gegee het, was om altyd in my te glo. Ek sal altyd saamweestye, lekker lag en kuier saam my pa koester. Hy het my ook geleer dat sport jou nie net gesond hou nie, maar jou ook wilskrag in die lewe gee en dat geen uitdaging te groot is nie.”
Ferreira volg in sy pa se voetspore deur sy kinders altyd in alles wat hulle aanpak te ondersteun. Hy beskou homself as hul grootste ondersteuner.
“Eienskappe van ‘n goeie pa is om 100% in jou kinders se vermoëns te glo. Ek streef daarna om glimlagte te plant, blydskap te groei en liefde te oes,” sê Ferreira.
As handelaarshoof van een van die stad se grootste motorhandelaars, is Ferreira in ‘n besige skedule vasgevang, maar skep daagliks die geleentheid om tyd saam sy kinders deur te bring.
“Ek sorg altyd vir ‘n balans tussen my werk en my gesin. My vrou Mirinda is my steunpilaar wat ook altyd vir ‘n balans sorg. Ek maak my gesin my eerste prio-riteit en glo my aksies weerspieël dit,” sê Ferreira.
Hy glo dat sy kinders hom as ondersteunend, behulpsaam en liefdevol sien.
“Hulle weet ek sal altyd daar wees vir hulle, of dit nou langs die sportveld, in die gehoor by ‘n kultuuraand of met akademie is. My kinders is altyd my ondersteuning en hulp gewaarborg.”