full screen background image

Joost se lewe ook plaaslik herdenk

391

Spesiale herinneringe van rugby-legende, Joost van der Westhuizen, wat Maandag aan motorneuronsiekte oorlede is, is ook plaaslik gekoester.
Pietersburg Dorp Rugbyklub se hoofafrigter, Jacques Swanepoel en Van der Westhuizen was sedert 1989 vriende toe beide Tukkie-studente was en saam vir die universiteit se o.20-span uitgedraf het. “Joost was ‘n fenomenale mens en uitmuntende rugbyspeler.”
Hy onthou hoe Van der Westhuizen se ma, Mariana altyd vir hom (Swanepoel) toebroodjies gestuur het omdat hy in die koshuis was. “So ernstig as wat Joost was, so stout was hy. Hy het altyd spelers se broeke omgeruil of rugbyskoene weggesteek net voor die span moet opdraf. Na die tyd sou hy almal se motorsleutels in sy sak sit sodat niemand huis toe kon gaan nie.”
Van der Westhuizen se skokdiagnose in 2011 was vir hom moeilik en hy het gesê ‘n dokter sal nie vir hom sê hy het net twee jaar oor om te lewe nie. “Dieselfde veggees wat hy op die veld gehad het, het hy tot die einde met sy siekte weerspieël.”
Hoërskool Pietersburg (PHS) se leerders en onderwysers sowel as verskeie leerkragte van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het Dinsdag hul Springboktruie ter nagedagtenis aan Joost gedra.
Tommie-sporthoof, Kobus de Meyer het as student in 2005 aan die Universiteit van Pretoria onder Van der Westhuizen se strawwe oefenprogram deurgeloop. “Ek dink dit was die fiksste tyd van my lewe. Joost het ons behoorlik laat hardloop en sy aansteeklike liefde vir rugby was merkwaardig.”
“n Roudiens word môre (Vrydag) om 12:30 vir die publiek by Loftus Versfeld in Pretoria gehou.

Storie en foto’s:RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com

Hooffoto: ‘n Groep graad 11-leerders van PHS in Springbokrugbytruie ter nagedagtenis aan Joost van der Westhuizen. 

Leerkragte van Tommies in groen en goud is Roelof Oosthuizen, Harry Strauss en Kobus de Meyer. Agter is Hantie Hoogenboezem, Sunette Snyman, Annalise Boneschans, Durethe Oosthuizen, Theonette Pelser, Natasha Fourie en Carla Booysen.