full screen background image
Dustin Terblanche, Suidskool se tweedespanskrumskakel neem in Julie aan die Bokkieweek deel.

Jong rugbyspeler Dustin Terblanche droom groot

530

Wanneer die 12-jarige Dustin Terblanche op die rugbyveld draf is daar net een ding wat vir dié talentvolle skrumskakel saak maak – om die bal so vinnig moontlik by die agterlyn te kry.
Sy befaamde duikuitgooi is al welbekend onder spelers en sy vermoë om ‘n gaping om die skrum of losgemaal te skep en agterlyn toe te voer spreek van vernuf.
Die rugbymal en toegewyde graad 6-leerder van Pietersburg Laerskool maak vinnig naam en is vir die afgelope drie jaar as sy span se Agterspeler van die Jaar aangewys en boonop vanjaar die enigste tweedespanspeler wat tydens die onlangse Bokkieweekproewe in Mookgophong vir die o.13A-Verre Noordspan gekies is.
Die Bokkieweek vind van 2 tot 6 Julie in Mookgophong plaas waar Dustin hoop om raakgesien te word en volgende jaar vir die Limpopo- of Cravenweekspan oorweeg te word.
“Aanhouer wen en ander leerders wat vir ‘n tweedespan speel en voel dat hulle nie goed genoeg is nie, moet nie moed verloor nie. Daar is ‘n beperkte hoeveelheid spelers in ‘n eerstespan en dit beteken nie noodwendig hulle is beter as jy nie. Met harde werk en gereelde oefening kan jy jou drome verwesenlik. Almal het unieke talente wat eendag raakgesien sal word en een na die ander deure vir jou op die regte tyd sal oopmaak,” meen Dustin wat hoop om een­dag oorsee professionele rugby te speel. Hy oefen drie keer ‘n week saam met sy skoolspan onder leiding van afrigter Jacques Bartlett. “Ek sien uit daarna om saam met die Bokkieweekspan te oefen want dit sal lekker wees om saam met ander spelers te speel en te ervaar hoe hulle ook rugby geniet.”
Intussen spandeer hy elke spaaroomblik met sy rugbybal al is dit net om bal saam met sy honde te skop.
‘n Goeie skrumskakel is volgens hom ‘n speler wat vinnig besluite kan neem – soos om die bal agterlyn toe te speel of om self verby die skrum te probeer veld wen. “‘n Skrumskakel se besluit verander die spelpatroon en spanmaats moet vinnig op sy besluit kan reageer.”
Dustin hou ook baie van atletiek en krieket en beplan om sokker te begin speel. Hy speel graag skaak, hou van sing en het twee jaar gelede by die Bosveldkunstefees ‘n A+++-sertifikaat vir poësie verwerf.
Wiskunde is sy gunstelingvak. “As ek nie oorsee professionele rugby kan speel nie wil ek graag ‘n vlieënier word,” sê Dustin.
Curwin Bosch, Cell C-Sharkspeler, en Patrick Lambie, Springbokspeler is sy rolmodelle omdat dié twee volgens hom uitstekende rugby speel en hy graag in hul voetspore wil volg.
Hy geniet Vin Diesel-rolprente, eet graag pizza en is ‘n Imagine Dragon-aanhanger.
Sy beste eienskappe volgens hom is dat hy vriendelik is en maklik maats maak. “Wees altyd jouself en moenie ander mense oordeel of jou beter as hulle ag nie,” is sy raad aan ander jongmense.

Storie & foto:
KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za
RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com