full screen background image

Jong gholfspeler wat vinnig opgang maak

751

Devaux van der Wath (18) was maar twee jaar oud toe hy sy eerste stel plastiese gholfstokke as Kersgeskenk gekry het.
Hierdie graad 12-leerder van die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het tyd gemaak in sy besige program om in klastyd met Polokwane Observer oor sy nuutste prestasie te praat.
Devaux het vier goue medaljes tydens gholftoernooie wat oor die April-vakansie gespeel is, gewen.

Op 21 Maart het hy die Polokwane Gholfklub se Monthly Medal-uitdaging gewen, gevolg deur ‘n Junior Gholftoer-nooi in Mokopane op 30 en 31 Maart waar hy albei gholfdae van die toernooi met nettopunte gewen en bo aan die lys geëindig het.
Op 4 April het Devaux ook die Weekend Competition by Avion Park Gholfklub in Kemptonpark gewen.
Devaux speel in die A-divisie met ‘n ses voorgee en is tans sewende op die Limpopo-ranglys. Hy is ook kaptein van Tom Naudé se eerste gholfspan.
Hy verwys na die plastiese gholfstokke en sê: “Iewers moes die stokke my belangstelling geprikkel het, want al wat ek kan onthou is dat ek later met (regte) gholfstokke wat my oupa vir my korter gemaak het, begin speel het.”
Hy speel al vir die afgelope 15 jaar gholf en het op agtjarige ouderdom sy eerste trofee tydens ‘n werkswinkel in Gauteng vir sy swaaistyl ontvang.

In 2013 was Devaux ‘n kategoriewenner van die Capricorn Distriksmunisipaliteit Gholfdag.
Sy prestasies sedert 2013 bestaan uit eerste en tweede plekke wat hy gereeld tydens plaaslike en streekskompetisies behaal.
Sy droom is om in die Suid-Afrikaanse span opgeneem te word en sy toekomsplanne is reeds uitgelê.
“Ek moet vir die res van die jaar ge-reeld aan kompetisies deelneem om my plek op die provinsiale ranglys te behou of te verbeter. Die sewe beste spelers word gewoonlik vir die provinsiale span gekies,” sê hy.
Devaux wil graag lid word van die Professional Golfers Association (PGA) en deur die Centurion Golf Academy studeer om sodoende uiteindelik professionele gholf te speel.
Die PGA in Suid-Afrika is ‘n lede-organisasie van meer as 500 gekwalifiseerde professionele klubspelers.

Dié assosiasie is in 1925 gestig en die ledelys spog met die name van bekende en baie suksesvolle gholfspelers. Die PGA is daarop gefokus om opleiding en dienste aan professionele spelers, wat dit hul missie gemaak het om die hoogste gehalte diens aan gholfspe-lers in alle aspekte van die spel te verskaf, te voorsien.
Devaux sê ‘n goeie gholfspeler is iemand wat hard en gereeld oefen.

“Daar is seker spelers wat die talent gekry het om goeie gholf te speel, maar hulle moet ook hard werk om hul tegniek te beoefen. Tegniek is sekerlik die belangrikste aspek van gholf. Elke hou moet perfek wees en ‘n millimeter verskil op jou tegniek kan ‘n groot verskil maak,” sê Devaux, wat self jare lank geoefen het om sy eie styl en tegniek te ontwikkel.
Sy raad aan ander jong gholfspe-lers is om hard te oefen en gefokus te bly.
“As jy oefen, slaan honderde balle op die oefenbof en setperk. Speel soveel moontlik op verskillende bane en moet nooit kop verloor nie,” sê hy.