full screen background image
Aydon Venter met die toekennings wat hy tydens ‘n onlangse kompetisie in Western Mounted Games verwerf het.

Jong Aydon Venter blink uit in perdesport

479

Aydon Venter het as vyfjarige begin perdry en op nege sy eerste 40 km uithourit voltooi. Hy was egter te jonk vir die 80 km uithourit en het kort daarna met Western Mounted Games kennis gemaak waar die gogga hom dadelik gebyt het.
Dié graad 7-leerder van Pietersburg Laerskool is vinnig besig om naam te maak in die gewilde perdesport en het al verskeie toekennings ingepalm.
Tydens die onlangse kwalifiserende kompetisie in Tzaneen het hy vier goue- en twee silwermedaljes verower en is as vlak 2-kampioen aangewys. Met dié prestasie hoop hy om vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar vir die Limpopospan gekies te word.
Die groeiende sport behels dat ruiter en perd spesifieke patrone binne die vinnigste tydsbestek moet aflê en is vir ruiters, oud en jonk, wat ‘n absolute band met sy perd het.
In 2016 is hy as vlak 0-ruiter vir die eerste keer vir die Limpopospan gekies en het aan die nasionale kampioenskappe in Pretoria deelgeneem. Sy deursettingsvermoë om konstant te presteer en homself te verbeter het verlede jaar vrugte afgewerp toe hy na vlak 1 opgeskuif het en weer vir die provinsiale span gekies is. Tydens die nasionale kampioenskappe van die Western Mounted Games in Parys word Limpopo as wenspan aangewys en hy verbeter sy tyd in verskeie afdelings en word na vlak 2 bevorder.
“Ek werk nou reeds hard om vanjaar weer die provinsie op nasionale vlak te verteenwoordig en oefen minstens een keer per week. As daar oor naweke tyd is, is ek op my perd aan’t oefen. Daar is ‘n hegte band tussen my en Sharifa wat daagliks net beter en vinniger word,” sê Aydon.
Aydon se tweede perd, Ramani, is tans in opleiding sodat hy in die toekoms met hom ook kan deelneem.
Die lekkerste deel van die sport is vir hom om te sien hoe sy verhouding met sy perde byna daagliks groei. “Ek probeer hulle altyd kalm hou tydens kompetisies en weet waartoe hulle in staat is. Sharifa raak soms so opgewonde dat sy bokspring en my hele lyf hoendervleis laat uitslaan van lekkerte,” sê hy.
Tydens kragmetings fokus hy net daarop om die beste, binne sy perd se vermoë, te wees. “Tyd is die belangrikste faktor in Western Mounted Games, maar dit is belangrik om nie jouself en jou perd te ooreis en die kanse op beserings te vergroot nie.”
Volgens hom is ‘n goeie ruiter kalm en iemand wat weet hoe om sy perd rustig te hou en te hanteer. Hy meen hoe sterker die band met jou perd, hoe sterker is die vertroue tussen beide en hoe makliker is dit om te presteer.
Tydens ‘n uithourit het hy al met moederaarde kennis gemaak omdat die saal nie goed vasgemaak was nie. “Dit is deel van die sport. As jy nog nie afgeval het nie, kan jy jouself nie ‘n ruiter noem nie.”
Hy sal graag wil hê meer leerders moet perdry want dit leer jou geduld, dissipline en uithouvermoë en help om jou konsentrasievlakke op te skerp.
Sy jonger suster, Sharné is reeds deur haar broer geïnspireer om ook deel te neem.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com