full screen background image

Jong atlete weer ingedoen

557

Ouers en onderwysers het sedert die begin van die maand self ingespring om te probeer red wat te redde is omdat die departement van onderwys weens onbevoegdheid en ‘n gebrek aan fondse geen laerskool- of hoërskoolatlete na die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe kan stuur nie.
Die byeenkoms vir laerskole vind môre (Vrydag) en Saterdag in Potchefstroom plaas terwyl die hoërskoolatlete volgende naweek in Durban meeding.
Atlete is in die verlede gestrand gelaat nadat die departement nie vroegtydig busse na die nasionale byeenkoms kon reël nie. Daar is ook jaarliks groot ontwrigting tydens die atletiekseisoen met byeenkomste wat laat begin, onvolledige programme en selfs ‘n tekort aan beamptes wat byeenkomste telkens kenmerk en ouers en afrigters se geduld behoorlik toets.
Hoërskool Pietersburg (PHS) het in 2015 reeds aangekondig dat hulle van alle Limpopo Skole Atletiek (Limsa)-byeenkomste onttrek weens die swak organisering.
Wat die situasie skreiender maak, is dat die onderwysdepartement se kommunikasiehoof, Naledzani Rasila teen druktyd gesê het dat hy nie van die voorval bewus is nie en terugvoe­ring sal gee sodra hy homself van die situasie vergewis het.
Verskeie rolspelers het met Polokwane Observer op voorwaarde van anonimiteit gepraat.
“In Februarie het ons reeds ‘n skrywe ontvang dat die nasionale departement van sport, kuns en kultuur nie geld aan provinsies gaan voorsien om atlete se deelname aan die SA’s te verseker nie. Vroeg vandeesmaand het die onderwysdepartement laat weet hulle het ook nie geld om atlete by dié kampioenskappe te besorg nie,” sê ‘n bron.
Die bron is spesifiek by laerskole-atletiek betrokke en sê ouers het self ingespring om te verseker dat topatlete ‘n regverdige kans gegun word. “Ons het self vir die klere betaal, ouers ry self atlete aan en dok vir verblyf en kos op. Ons kan nie toelaat dat die departement se wanbesteding en wanbestuur atlete se drome kelder nie.”
Volgens inligting is daar reeds ‘n bussie deur ouers vir ongeveer 20 hoërskoolatlete van regoor die provinsie gereël wat nie hul eie reiskoste kan betaal nie.
“Dit is hartverskeurend om te sien hoe hard atlete werk, maar telkens deur die departement teleurgestel word. Hulle skep ‘n verwagting by atlete wat nie realiseer nie en ‘n negatiewe invloed op prestasie het. Geld word op ander aktiwiteite gemors, maar daar kan nie begroot word vir topatlete wat die provinsie op nasionale vlak verteenwoordig nie of wanbestee die geld waarvoor wel begroot is,” sê ‘n bekende afrigter van die stad.
Een van die topskole se sportafrigter sê die departement verstaan nie hoe ‘n groot onreg hul die atlete aandoen nie.
“Sport vorm deel van opvoeding en die chaos kan gesien word as resultate van wanbestuur. Ouers is lankal raadop en sorg self dat hul kinders by byeenkomste kom omdat daar glad nie op die departement staat gemaak kan word nie.”

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com