full screen background image
Androë Botha spog met haar Osies voor Oosskool se hek. Hulle is Martin met Elizabeth op sy skoot, Jaco en Pieter.

Hele gesin van graad R tot 7 in Oosskool

191

Met vier kinders van graad R tot graad 7 vanjaar in Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) is die Botha-gesin Osies in murg en been.
Plaaslike sakeman, Jaco Botha en sy vrou, Androë, Demokratiese Alliansie (DA) Polo­kwane- en Capricorn-raadslid, se kroos is baie trots op hulle skool en verkondig graag dat Oosskool die beste in Limpopo is.
Die bekkige Elizabeth is vanjaar in die Olifantklas en sê Martin is miskien die oudste, maar sy is beslis die oulikse in die gesin.
Sy is in graad R en dink haar juffrou is baie mooi.“Maar sy is slim ook en leer mens baie dinge. Ek hou van juffrou Mariska (Nel),” voeg sy vinnig by.
Vir ouboet Martin, wat vanjaar in graad 7 is, is Oosskool ‘n plek wat vir hom geleenthede skep.
“Die onderwysers wat altyd so mooi met my gepraat het, het my geleer om negatiwiteit agter te laat en die lewe voluit aan te pak. Oosskool gee regtig vir elke leerder om,” sê hy.
Jaco jr is tans in graad 6 en sê die waardes wat hy by die skool leer rus hom toe om homself vir die hoërskool en selfs grootmenslewe voor te berei.
Die Bothas se jongste seun, Pieter is in graad 2 en sy gunstelingdeel van skool is pouses, waterspeletjies en sport. “Ek is in juffrou Micke (Crouwkamp) se klas en sy is nogal kwaai, maar baie gaaf.”
Androë sê sy glo soos haar kinders dat Oosskool een van die top skole in die provinsie is. “Die skool se vaste norme en hoë standaarde met Christelike waardes as hoek­steen bied aan elke kind die nodige vorming vir die toekoms.”

Storie en foto: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com