full screen background image
Theresa Hovy, stigter van Hekel Hemel, en Lynette Botes, klublid, geniet hul stokperdjie.

Hekel Hemel swoeg 12 uur om ander te help

93

laaslike hekelklub, Hekel Hemel het Saterdag by Capricorn Quilting in Platinumpark byeengekom om van 08:00 tot 20:00 oumablokke te hekel.
Die doel van hierdie marathon was om soveel moontlik blokke te hekel sodat dit uiteindelik aanmekaar gewerk kon word om komberse te maak wat aan liefdadigheidsinstansies geskenk sal word.
Hekel Hemel vier vanjaar hul vyfde be­staansjaar en die eerste hekelmarathon is op 18 Julie 2014, op Mandeladag, gehou. Verlede jaar het hulle ‘n rekordgetal van 140 blokke gemaak wat vanjaar met harde werk en deursettingsvermoë met 40 blokkies oortref is.
Theresa Hovy, medestigter van die klub vertel dat klublede elke Vrydagmiddag van 14:00 tot 17:00 bymekaarkom en heerlik kuier terwyl hulle saam-saam aan komberse vir minderbevoorregtes werk. “Ons reik veral na die pasiënte van die Polokwane Provinsiale Hospitaal se pediatriese onkologiesaal, die Tough Living with Cancer (TLC)-saal uit en wil graag verseker dat elke kind wat met kanker gediagnoseer word ‘n nuwe kombers ontvang. Ons hekel ook vir die personeel en die siek kinders se ouers wanneer ons kan en reik ook na ouetehuise en shelters uit,” verduidelik sy.
Mense wat graag hekel en by Hekel Hemel wil aansluit, kan Hovy by 082 784 3519 of Capricorn Quilting by 015 297 2146 skakel.
Die klub is grootliks afhanklik van wol wat deur die publiek geskenk word. Die personeel van Capricorn Quilting is beskikbaar vir navrae oor die tipe wol die klub nodig het en om skenkings te ontvang.

Storie en foto’s: MARKI FRANKEN
>>marki.observer@gmail.com

Annet Fielding, middel, bied morele ondersteuning aan marathonhekelaars, Daleen Bovill en Molly Black.

Dorah Makgoba, Lucy Serradino en Anna-Marie Venter lag heerlik vir ‘n medeklublid se grappe terwyl hulle werk.

Alta van der Vyver werk aan pragtige blou en roomkleurige bloke.

Lynette Botes en Ohna Barnard.

Ronel de Greeve en Annatjie van Staden.

Nettie Oerlemans en Anne Theron is ‘n gedugte span.