full screen background image
Hantie van Staden het onlangs ‘n toekenning vir ‘n halfeeu se vrywillige dienswerk ontvang.

Hantie se 50 jaar vrywillige diens aan die gemeenskap

484

Hantie van Staden (73) se jare lange onbaatsugtige vrywillige werk vir die SAVF Polokwane is onlangs erken toe sy ‘n spesiale toekenning by die SAVF Limpopokonferensie in Lephalale ontvang het vir 50 jaar se onbaatsugtige vrywillige diens.
Terugskouend voel dit vir Van Staden of die vyf dekades verbygevlieg het. “Dit voel soos nou die dag toe ek pasgetroud in die destydse Pietersburg op 23-jarige ouderdom aangekom het.”
Sy het deur die kerk van die SAVF te hore gekom en besluit om aan te sluit omdat dit die voorbeeld was wat haar ma gestel het. “Die SAVF het toe reeds werk vir ‘n ouetehuis gedoen. Daar was ‘n ou losieshuis op die hoek van Rabé en Voortrekkerstraat wat gesluit het en pensionarisse is later daar geplaas. Nog later word dit toe Martha Hofmeyr Tehuis vir Bejaardes wat mettertyd na die perseel in Hoogstraat verskuif.” Martha Hofmeyr was in daardie dae die voorsitter van die SAVF in Polokwane wat ook families wat swaargekry met kos en klere gehelp het. “Sy was ‘n wonderlike mens en het ‘n passie daarvoor gehad om bejaardes te help.”
Van Staden sê fondsinsameling was toe baie anders as vandag. “By vendusies en geleenthede soos troues is kos verkoop en koekverkopings is by skole en kerkbasaars gehou. Die SAVF in Pretoria het ook ‘n enorme gesinseëlveldtog geloods en ons het vreeslik seëls verkoop,” onthou sy. Hulle het ook met kollektebussies in die hand geld by winkels vir verskeie projekte ingesamel.
Van Staden is ‘n boorling van Fraser­burg naby Sutherland in die Karoo. In haar graad 11 jaar het die gesin Pretoria toe verhuis waar sy aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in 1961 gematrikuleer het en in 1965 haar BA Verpleegkundegraad aan die Universiteit van Pretoria behaal het waarna sy haar hospitaalopleiding by die destydse Queen Victoria Hospitaal in Johannesburg gedoen het.
Sy het haar man, Jurie in haar vierde jaar op universiteit ontmoet.“My vriendinne het almal geweet ek hou glad nie van mediese studente nie. Een vriendin het my totaal verneuk en vir my ‘n ‘date’ vir die finalejaarafsluiting gereël. Die aand van die funksie sien ek hy loop saam met ‘n klomp mediese studente in. Ek vra toe vir hom, ‘Swot jy miskien medies?’ en hy antwoord ‘Ja, het jy dan nie geweet nie’. Maar ons het die aand saam geniet, is in 1967 getroud en het in 1968 Pietersburg toe verhuis.”
Hulle het vier kinders, Stephan, Rinet, Anel en Hanri. Die raakvatter sê sy was altyd vreeslik besig as huisvrou, ma en vrywillige werker asook by die NG Kerk, Moedergemeente waar hulle lidmate is. Sy was ook ‘n ywerige tennisspeler en het later jare by Walk for Life aangesluit.
Van 1988 tot in 2001 het sy weer voltyds as klinieksuster by die destydse Pietersburg Kliniek gewerk waarna sy vir sowat 10 jaar by die Theunis Fichardt Hospitium gewerk tot haar aftrede. “Maar selfs na my aftrede het ek vrywillige verpleegdienste by die hospitium gelewer.”
Deesdae hou haar kleinkinders, waarvan sy vyf het, en vrywillige werk haar baie besig en sy geniet dit ook om te bak en te brei.
“Ek het altyd gevoel dit is my sosiale en Christelike plig om te help waar ek kan en sal dit aanhou doen tot ek nie meer kan nie. Dit is vir my wonderlik om ‘n verskil te maak, al is dit hoe klein.”

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za