full screen background image
Van die lede van Kreatiwityd tydens Saterdagoggend se mark is voor van links Hesti Wentzel, Linette Scott en Erina van der Merwe met Wilma Moolman, Marinda Kruger, Ansie du Toit en Annette Muller agter.

Handgeduntes bied mark met verskil

305

Baklava, biltong, spiraal-raspers, kralekuns en rottangwerk het onder meer die pas aangegee tydens verlede week se jaarlikse Handgeduntesmark wat Saterdag met die afskop van die Rugby Wêreldbeker-eindstryd in Japan op ‘n einde geloop het.
Met rugbykoors wat hoogty gevier het was die klem finaal verskuif toe daar op ‘n groot skerm in die saal van NG Kerk-Noord gekuier is na afloop van ‘n program wat reeds Dinsdag ‘n aanloop geneem het.
Vergesel van Ansie du Toit, een van 15 lede van die groep Kreatiwityd wat die mark organiseer, is daar Saterdagoggend kuier-kuier deur die mark gestap. Ter opsomming van die program het sy vertel dat daar op die eerste dag aanbiedings oor tafelversie­rings deur Stef Dorfling en permanente grimering deur Rochelle Fouché was. Woensdagaand se gesellige kuier om kaasborde en wyn van ‘n Kaapse verskaffer het Donderdag se aanvang van die mark voorafgeloop. Die aandprogram was gevolglik ‘n sameflansing van blokfluit-, orrel-, en klassieke kitaar, solo sang-items en voorlesings by kerslig. Tussendeur is gratis slypskole in olieverf, kaligrafie, hekel met krale en charcutterie aangebied.
Volgens Du Toit moes die nagenoeg 50 uitstallers wat aan vanjaar se mark deelgeneem het aan die vereiste vir die tentoonstelling van slegs handgemaakte ware voldoen, wat die benadering beperkend maar ook uniek maak. Sy het voorts genoem dat hul moes plan maak om te vernuwe en suksesvol was in hul poging om ‘n wyer verskeidenheid voetverkeer na vanjaar se mark te lok.
Die mark het na verneem sowat nege jaar gelede sy oorsprong gehad nadat Du Toit, Marianna Badenhorst en Linette Scott weekliks vir breisessies bymekaar gekom het. Mettertyd het nog vroue aangesluit wat ander vorms van handewerk meegebring het en moes hulle ‘n podium vind om hul handewerk te verkoop.
Vanjaar was die oorgrote uitstallers van plaaslike bodem met vier uit Johannesburg. Benewens die semi-edelge­steentes, juwele en bykomstighede wat by die stalletjie van Joshua Mutebu van die Demokratiese Republiek van die Kongo te koop was, het mede-landgenoot Joseph Mulongoy die leersakke wat hy ontwerp en vervaardig vir die eerste keer aan die Polokwane-mark beskikbaar gestel. Mandla Ndlovu het ‘n Suid-Afrikaans-vervaardigde konsep wat deur die Franse geïnspireer is, gedemonstreer. Die handgemaakte ke-ramiekborde – met spiraal punte geskik vir die rasper van sjokolade tot knoffel en verf-motiewe eg aan die kontinent – word in die hart van Johannesburg vervaardig.
Die laaste draai voor die skeidsregter se fluitjie kon blaas was by ‘n toonbank waar Merve Moon besoekers met haar smulgoed gelok het. Die watertand lekkernye eg aan haar geboorteland het die keuse tussen dubbel-sjok brownies, tiralice, love cake, bright cake, gemengde koekies, Turkse lekkers asook koffie, tee en limonade bemoeilik. Dit benewens die watertand-baklava rolletjies en gulhartige glimlag waarmee sy die besoeker in ‘n onverwagse suiker-lokval gelei het.

Storie en foto’s: YOLANDE NEL
>>observer.yolande@gmail.com

Merve Moon bied haar tuisgemaakte smulgoed aan.

Mandla Ndlovu demonstreer ‘n rasper met ‘n Afrika-inslag.

Marianne van Zyl by ‘n uitstalling van haar man, Louis, se houtkuns wat penne, wynproppe, sleutelhouers en speelgoed ingesluit het.

Ansie du Toit maak ‘n draai by die stalletjie van Siloe School for the Blind, verteenwoordig deur Rogers Mothata en Willie Malatsi, waar rottangwerk uitgestal is.

Plaaslike kunstenaar Elna le Roux deel haar kennis met Christine Marais (voor) en Elmarie Caldeira tydens ‘n slypskool Saterdagoggend.

Max Meyer, ontwerper en hersteller van juwele, by sy eie handewerk en dié ontwerp en vervaardig deur ‘n sake-inkubator in Limpopo.

Uitstaller Joshua Mutebu omring van bykomstighede te koop.

‘n Slypskool oor hekel met krale onderweg in die kerksaal.

Keuses te maak by ‘n klere- en bykomstighedestalletjie.