full screen background image

Hamermonster: Kry jou huis in orde of verdedig jouself, sê hof

319

David Mamvura, ook bekend as die hamermonster, is Maandag deur die Limpopo Hooggeregshof gewaarsku dat hy ‘n laaste kans gegun word om sy huis in orde te kry anders sal hy tydens sy verhoor wat gister (Woensdag) sou begin het, homself moet verdedig.
Hy het Maandag in die hof verskyn, maar glo nog nie tyd gehad om met sy nuwe regsverteenwoordiger te konsulteer nie.
Mamvura, ‘n Zimbabwiër, is in 2013 vir die eerste keer aangekeer en later op borgtog vrygelaat, maar het nooit weer vir sy hofverskyning opgedaag nie. In Junie 2015 is hy vir ‘n tweede keer in die stad vasgetrek.
Die saak teen hom is sedert 2016 op die rol vir verhoor, maar word telkens uitgestel oor sy pogings om die proses te vertraag deur sy regsverteenwoordiger her­haaldelik in die pad te steek. Hy het in Junie verlede jaar sy regsverteenwoordiger afgedank en dieselfde modus operandi gebruik om die saak wat toe tot Oktober 2017 uitgestel is, weer tot vandeesmaand uit te stel.
Vier getuies is vir sy eerste dag van verhoor gewaarsku om in die hof te getuig.
Mamvura staar 14 aanklagte van verkragting, 10 van huisbraak met die doel om te verkrag, 10 van roof met verswarende omstandighede en seksuele aanranding in die gesig. Hy het glo in 2010 in Rissik-, Devenish, Bodenstein- en Pleinstraat met sy gruweldade begin en is ook met verskeie sake in Eduanpark en Bendor verbind waar hy onder meer ingebreek, mense met ‘n hamer aangeval en vroue verkrag het.
Die Nasionale Vervolgingsgesag in Limpopo se kommunikasiebestuurder, Mashudu Malabi-Dzhangi, sê Mamvura sê verkragtingslagoffers is tussen 14 en 75 jaar oud wat hy skynbaar meestal met ‘n hamer, skroewedraaier, mes of ysterstaaf gedreig het voordat hy hulle verkrag het. Televisies, skootrekenaars en selfone is ook gesteel.
Twee verkragters kry vier lewenslange vonisse
Intussen het verskeie howe in die provinsie twee verkragters in afsonderlike sake vier lewenslange vonnisse opgelê.
Malabi-Dzhangi sê die Mankweng streekhof het verlede week vir Andries Malatjie lewenslank tronk toe gestuur nadat hy in Junie 2016 ‘n 20-jarige vrou by Sebayeng oorval, die bos ingesleep en verkrag het. Sy sê Malatjie is ‘n tradisionele geneesheer en het sy slagoffer gevra om saam met hom kruie in die bos op te grawe. “Hy het aggressief geraak en haar met die vuis ge­slaan, oorrompel, herhaaldelik verkrag en eers die volgende oggend laat gaan.”
In die tweede voorval het die Limpopo Hooggeregshof in Thohoyandou vir Ofhani Magwaba drie lewenslange vonnisse opgelê nadat hy op drie aanklagte van verkragting skuldig bevind is. Malabi-Dzhangi sê sy eer­ste slagoffer, ‘n bejaarde vrou, is in Oktober 2009 by Tshilapfene-nedersetting met ‘n okapimes aangeval en verkrag nadat sy van die kerk af gekom het. Hy het ook haar geld en selfoon gebuit.
Magwaba se tweede vroueslagoffers is in Oktober 2013 deur hom en ‘n medepligtige by ‘n kerk in Ha-Makhuva-nedersetting aangeval waar die twee geslaap het. Hulle is met ‘n panga en mes aangeval, verkrag en be­roof. Mogwaba is deur middel van DNS-toetse met die voorval verbind. Hy het op sewe klagte skuldig gepleit en is ‘n verdere vyftien jaar gevangenisstraf vir elke klag van roof met verswarende omstandighede en ‘n ekstra drie jaar op elke klag van huisbraak met die doel om te verkrag en roof, opgelê.

Storie: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com