full screen background image
Dawie Groenewald by ‘n vorige hofverskyning.

Groenewald bots weer met gereg

3516

Dawie Groenewald, be­rugte sakeman van die stad, kan binnekort weer tyd in die polisieselle deurbring indien ‘n lasbrief wat Maandag vir sy arrestasie uitgereik is, uitgevoer word.
Volgens stukke wat by die landdroshof in Polo­kwane geliasseer is, het Groenewald versuim om ‘n ondersoek na sy finansiële posisie by te woon nadat hy nagelaat het om ‘n bedrag van R928 971,14 wat hy ingevolge ‘n hofbevel van Maart 2015 aan Mataka Ranch (Edms) Bpk verskuldig was, te betaal. Die bedrag sluit rente, wat vanaf 15 Junie 2012 teen 15,5% bereken is, asook getakseerde koste wat R75 492,97 beloop, in.
Groenewald het volgens hofdokumente reeds R100 000 van die aanvanklike skuld aan die eiser betaal.
Die lasbrief vir arrestasie beveel die geregsbode om Groenewald te arresteer en voor die hof te bring en, indien dit nie moontlik is nie, om hom by enige polisie­stasie te laat aanhou totdat hy voor die hof kan verskyn.
Groenewald is tans saam met nege ander beskuldigdes verhoorafwagtend op 1 872 klagte wat verband hou met die grootste beweerde renosterstropingsindikate in die land se geskiedenis. Hulle verskyn weer in Januarie in die Pretoria hooggeregshof op verskeie klagte.
Mataka Ranch se prokureur, Franco Marx, was nie bereid om in hierdie stadium kommentaar te lewer op die aangeleentheid nie.

Storie: BARRY VILJOEN
>>barryv.observer@gmail.com