full screen background image
Voormalige Polokwane-inwoner en skoonheidsredakteur van ‘n tydskrif, Debbie Ellis, bied Saterdag ‘n werkswinkel by die ‘Ek is Vrou’-dag ten bate van plaaslike kankerlyer, Ansa van der Walt, aan.

Grimeerspesialis glo in innerlike skoonheid

446

Om vroue goed oor hulself van binne en buite te laat voel is Debbie Ellis se groot passie.
Hoewel sy nou ‘n Gautenger is het sy in Polokwane grootgeword, skool gegaan en keer nog dikwels terug om tyd saam met haar familie en vriende deur te bring.
Ellis is die skoonheidsredakteur van ‘n tydskrif en eienaar van haar maatskappy, Debbie Ellis Makeup Artistry and Hair en bied Saterdag ‘n grimeringswerkwinkel aan tydens die ‘Ek is Vrou’-dag in die stad wat ten bate van kankerlyer, Ansa van der Walt, gehou word.
Sy is gereeld by fondsinsamelings vir kankerlyers betrokke en het tydens ‘n eksklusiewe onderhoud verlede week met Polokwane Observer vertel sy hoe sy en ‘n vriendin, Carmen Holden, wat by dieselfde geleentheid ‘n dekorwerkswinkel aanbied, betrokke geraak het. “Kanker is ‘n siekte waarvoor ons groot empatie het en wat na aan ons harte lê omdat Carmen se ma en my oupa kanker het. Dit raak almal en is iets waarteen elkeen op ‘n manier veg. Dit is ‘n voorreg om ons kennis te deel en skoonheid pas daarby want om nie goed oor jouself te voel nie is eintlik ook ‘n tipe kanker,” meen Ellis.
Sy wou na skool in ‘n dramarigting studeer, maar word toe swanger, voltooi ‘n grimerings­kursus en begin sewe jaar gelede haar besigheid omdat sy ‘n passie het om vrouens te help om goed oor hulself te voel en grimeringstegnieke te bemeester.
Dit was nog altyd vir haar belangrik om mense te help omdat sy ‘n depressielyer is en deur moeilike tye gegaan het en steeds gaan.“Dit is ‘n daaglikse stryd wat nie ophou nie. Ek was in groot dieptes, maar het gegroei en kyk waar is ek nou.”
Ellis het met werkwinkels begin toe sy besef hoeveel depressielyers daar is en hoeveel vroue met ‘n swak selfbeeld sukkel. Sy en Holden het verlede jaar in Polokwane ook tydens ‘n Kansa-geldinsamelingspoging opgetree. “Wanneer vroue daar uitstap weet hulle nie net hoe om hul grimering beter aan te wend nie, maar voel positief oor hulself.”
Sy voel geëerd om Van der Walt te help. “Sy was daar vir my tydens baie van my swaar tye. Ons moet soveel as moontlik geld insamel sodat ons haar op ‘n plek kan kry waar sy kan aanbeweeg.”
Kaartjies vir ‘Ek is Vrou’ kos R250 per persoon. Kontak Zulandi Wocke op 083 470 0740 vir meer inligting of om kaartjies te koop.

Storie en foto: KAREN VENTER
>>karen@observer.co.za